|

Plaasmoorde: AfriForum kap terug oor minister feite verdraai

AfriForum het vandag Khumbudzo Ntshavheni, minister in die Presidensie, se wanvoorstelling van die inhoud van ’n vergadering tussen AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gekritiseer en voer aan dat haar uitlatings wys dat die regering meer bekommerd is oor hul eie beeld as oor feite. AfriForum beklemtoon dat die organisasie nie, soos wat Ntshavheni nou valslik beweer, tydens dié vergadering toegegee het dat die plaasmoordstatistiek wat Senzo Mchunu, minister van Polisie, in Februarie tydens die bekendstelling van die jongste misdaadstatistiek voorgehou het, akkuraat is nie.

Dié vergadering wat op 18 Maart plaasgevind het, het gevolg op ’n dispuut tussen AfriForum en Mchunu ná laasgenoemde die erns van plaasaanvalle probeer onderspeel het. AfriForum en lede van die SAPD het tydens hierdie vergadering die misdaadstatistiekregister vir die derde kwartaal van 2024 bespreek. Die doel was om AfriForum se lys van plaasaanvalle met dié van die SAPD te vergelyk en nie om enige bewerings van sogenaamde “wit volksmoord” uit te klaar soos wat Ntshavheni ook nou beweer nie.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, was deel van die AfriForum-afvaardiging wat dié vergadering bygewoon het. “Vir die minister om sulke leuens kwyt te raak oor wat daar bespreek is, spreek boekdele en is onaanvaarbaar. Daar is tydens die vergadering oor verskeie kwessies verskil, maar albei partye het ooreengekom om die geskille vir tyd en wyl opsy te skuif totdat ons verdere vergaderings daaroor kan hou,” verduidelik Broodryk.

AfriForum het tydens die vergadering onder meer ook die SAPD se toepassing van hul eie definisie van ’n plaasaanval bevraagteken. Daar is ooreengekom om voortaan gereeld te vergader om die insidente van plaasaanvalle te bespreek.

“Ons het ’n produktiewe vergadering met die SAPD gehad, maar dit blyk dat die minister verdeling wil saai en die vordering wat gemaak is, in die wiele wil ry deur opsetlik leuens te versprei oor dit wat tydens die vergadering bespreek is,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings