|

Plaasaanval: ‘Ek wou net my dogter bel en vir haar sê ek is lief vir haar – dis al’

“Ek dink die enigste ding wat my laat uithou het, was net om my dogter te bel. Dis al. Ek wou haar net bel en vir haar sê wat gebeur het en vir haar sê ek is lief vir haar. Dis al. Gelukkig het ek dit gedoen.”

Die 55-jarige Adriaan Vos se oë skiet vol trane met dié woorde. Sy liggaam is gebreek in ’n plaasaanval wat minder as ’n maand gelede in die vroeë oggendure van 16 Maart op ’n plaas buite Westonaria afgespeel het. Uit die minstens 16 skote wat op hom gerig is, het drie sy liggaam deurboor – twee deur sy knie en een deur die rug tot in sy long. Sy huis is tot op die grond afgebrand en dit wat nie in die brand vernietig is nie, is in die daaropvolgende week in opvolginbrake gebuit.

Die fisieke letsels is nog sigbaar in die onderhoud wat Jacques Broodryk van AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid met hom gedoen het vir die YouTube-reeks Resilient voices: Farm attack survivors tell their stories. Dié episode is vandag op AfriForum se kanaal vrygestel en binne ure nagenoeg 8 000 keer gekyk.

Ten spyte van die wonde, rou emosies en ’n liggaam wat nog die pyn van die skietwonde dra, is Vos nie ’n gebroke man nie. “Ek gaan nie weghardloop nie. Dit is my plek. En my dogter s’n,” verklaar hy vasberade.

Die jongste episode waarin Vos sy tragiese verhaal vertel, is die sesde in die Resilient voices-reeks wat die realiteit van plaasaanvalle aan kykers tuisbring. Slagoffers vertel in hul eie woorde oor hul ervarings, vrees en trauma en bied ’n opregte en ongesensorde blik op plaasaanvalle.

Oor waarom dit nodig is om dié stories te vertel, is Broodryk duidelik. “Daar is baie gesprekvoering, debatte en statistieke oor plaasaanvalle en moorde, maar in die hele debat verloor mense baie keer uit die oog dat daar werklike menslike slagoffers agter hierdie brutale aanvalle en moorde sit. Dit was vir my belangrik om regte mense te koppel aan hierdie aanvalle, om hulle stories uit te kry en sodoende ’n diep bewusmaking te bring oor hierdie gruwelike probleem.”

Dit is juis die konstante bewusmaking van dié tipe misdaad wat help verseker het dat die wêreld nou van plaasaanvalle en -moorde kennis neem, benadruk Broodryk. “Oor die hele wêreld heen begin mense soos president Donald Trump en Elon Musk nou hiervan kennis neem. Daarom is dit van kritieke belang om mense se regte ervaringe met die wêreld te deel.”

Ten spyte van internasionale bewustheid oor plaasaanvalle, word die bestaan van plaasaanvalle op eie bodem geheel en al deur individue soos president Cyril Ramaphosa misken. Broodryk meen dié ontkenning maak dit duidelik dat plaasaanvalle die land se politieke leiers in ’n “polities ongemaklike posisie” laat.

En net soos Vos vasberade is om ná die aanval op sy lewe, weer die plaas op te bou, is Broodryk vasbeslote om nie politici se pogings om plaasaanvalle te misken, te laat slaag nie. Hy verduidelik: “Die regering se ontkenning van die probleem motiveer ons om net harder te baklei om bewusmaking hieroor te skep en met daadwerklike oplossings na vore te kom.”

Intussen beplan Vos om oor te begin. Weer ’n huis op die plaas te bou en weer te boer. “Dit is al wat ons kan doen. Ons gaan opbou met die hulp van die gemeenskap en die res van die boere,” verklaar hy. “Dit is al wat ons kan doen. Daar is nêrens anders om te gaan nie.”

Kyk episode 6 van Resilient voices hier vir Vos se volle onderhoud.

Soortgelyke plasings