Paarl-leerders raak bewus van gevare van boeliegedrag
AfriForum se teenboelieveldtogspan, in samewerking met AfriForum Jeug se Paarl-tak, het op 19 Mei besoek afgelê by Laerskool Noord-Eind en Hoërskool Labori in Paarl. ’n Totaal van 940 leerders het tydens hierdie besoeke geleer oor die uitwerking van boeliegedrag op slagoffers en hoe om hierdie tipe gedrag te identifiseer en te hanteer.
“Teenboeliebewusmaking is ’n gesprek wat gereeld met leerders gehou moet word. Kinders word nie gebore met empatie nie, hulle ontwikkel dit. En dit is iets wat binne skole moet gebeur, omdat so baie leerders grootword in onveilige omgewings waar hulle net geleer word om hulself te beskerm. Kinders wat boelie, asook kinders wat sien dit gebeur en niks doen nie, moet leer hoe om hulself in iemand anders se skoene te sit. Dit kan net gebeur wanneer ons as volwassenes se woorde en dade dit aan hulle demonstreer,” sê Paulette Viljoen-Louw, berader by die Hoërskool Labori.
Suid-Afrika beklee die vierde plek wêreldwyd wat kuberafknouery betref. Volgens ’n studie in 2018 deur Ipsos, ’n wêreldwye marknavorsingsmaatskappy, het meer as die helfte (54%) van Suid-Afrikaanse ouers aangedui dat hul kinders of kinders in hul gemeenskap slagoffers van kuberafknouery is. Hierdie statistiek kan egter veel hoër wees, aangesien ouers nie altyd bewus is daarvan dat hul kinders geboelie word nie.
“Dit is van kardinale belang dat kinders van jongs af bewus gemaak word van die negatiewe gevolge van boeliegedrag. Met AfriForum se kreatiewe, interaktiewe praatjie weet die leerders nou dat boelie nie net ander seermaak nie, maar ook hoe om op te tree wanneer iemand anders geboelie word. Die praatjie het empatie, respek en verantwoordelikheid beklemtoon – waardes wat ons almal in die samelewing nodig het om in harmonie saam te leef,” sê Bo du Preez, departementshoof van die internasionale Eskom-wetenskapekspo by die Laerskool Noord-Eind.
“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat begrond is in die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se Noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.
