Ons bloed is oranje, sê nuwe Afrikaanse proteslied
Steve Hofmeyr se nuwe protesliedjie “Oranje” is vandag bekendgestel. Dié liedjie is in opdrag van AfriForum en Solidariteit geskryf en volg ná verlede November se optog by die Voortrekkermonument toe meer as 10 000 mense opgeruk het om protes teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) aan te teken.
“Ons het ná die optog, waar soveel mense in oranje geklee was en daar ’n klomp oranje plakkate was, weer besef oranje is die kleur van die Afrikaner. Dit kom eintlik al van voor ons voorvaders na Afrika gekom het, maar is hier voorgesit met byvoorbeeld die benaming van die Oranjerivier en die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat. Die boodskap van die liedjie is dat Afrikaners weer selfvertroue in hul kulturele identiteit moet kry, maar dis ook ’n harde boodskap aan die regering dat ons hier is om te bly,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vanoggend tydens ’n onderhoud op Pretoria FM gesê.
Afrikaners gaan nie verdwyn nie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het by Hermann aangesluit oor die belang van Afrikaners se kultuur. “Ons dink nie ons is beter as ander nie, maar ons is ook nie onderdanig aan ander groepe nie. Ons gaan nie meer jammer sê dat ons Afrikaners is en ons ons identiteit opeis nie. Afrikaners gaan nie verdwyn nie. Ons gaan hier bly en ’n toekoms vir ons kinders skep.”
Afrikaners se band met oranje strek tot in Nederland en Frankryk – twee belangrike stamlande van die hedendaagse Afrikaner. In Nederland het die sestiende-eeuse stadhouer en voorganger van die Nederlandse monargie, prins Willem van Oranje, ’n belangrike rol teen die onderdrukking van Protestante in Nederland gespeel. Die verwysing na “Oranje” in sy naam is afkomstig van die gelyknamige Middeleeuse prinsdom in die suide van Frankryk wat hy geërf het en gevolglik deel van sy naam geword het.
Oranje het egter volledig wortel geskiet op Afrika-grond en gevestig geraak as kleur van Afrika. Dit is ook ’n Afrika-kleur vanweë die vele invloede van Nederlands hier op Afrika-bodem wat gelei het tot die skepping van ’n nuwe inheemse Afrikataal, naamlik Afrikaans. Dié taal – die derde grootste taal in die land – het dus ’n onlosmaaklike band met die kleur en die woord “oranje”.
Hofmeyr sê dit was maklik om hom te oorreed om die liedjie te sing – veral ná hy gehoor het dat Johan Vorster, wat hy as ’n patriot bestempel, een van die skrywers van die lied is. “Ek dink die liedjie is baie toepaslik vir nou. Afrikaners word weer raakgesien en dis ’n goeie tyd om weer ons simbole binne die raamwerk van die wet te laat herleef.”
“Oranje” is reeds beskikbaar op verskeie musiekplatforms, insluitend Spotify, YouTube Music en Apple Music.