|

Onderwysdepartement in die rooi – wat van die leerders?

Chanté Kelder

Kinders het die reg tot basiese onderwys in ’n veilige omgewing waar hulle geborge kan voel. Hierdie reg word egter bedreig deur die Departement van Basiese Onderwys se benarde finansiële omstandighede. Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys, moet behoorlik bontstaan met antwoorde en beloftes dat haar departement nie onderwysers gaan afdank weens gebrekkige finansies nie. Intussen het Gwarube ook vandeesweek die Nasionale Raad van Provinsies ingelig dat sowat R129 miljard benodig word vir broodnodige opgraderings aan verskeie skole.

Die 2030 Reading Panel-verslag wat einde Februarie uitgereik is, toon juis dat 80% van Suid-Afrikaanse gr. 3-leerders nie in enige taal met begrip kan lees nie en dat sowat 70% van gr. 6-leerders se leesbegrip in hul onderrigtaal ook ontoereikend is.

Kommer bestaan oor waar die fondse vir opgraderings én onderwysers se salarisse vandaan gaan kom, veral nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ’n begrotingstekort van R3,8 miljard aangekondig het en dus byna 2 400 onderwysposte nie sal kan bekostig nie. Enoch Godongwana, minister van Finansies, het egter vandeesweek in sy begrotingsrede bekendgemaak dat daar nou R19,1 miljard ekstra begroot is om sowat 11 000 onderwysers in hul poste te hou – dit laat wel minder fondse vir opgraderings aan infrastruktuur.

Ten einde ’n veilige skoolomgewing te skep moet daar by veral plattelandse skole opgraderings gedoen word sodat kinders nie meer van gevaarlike puttoilette gebruik hoef te maak of in modderskole skool hoef te gaan nie. Sommige skole het nie eens stoele en tafels vir die leerders nie en is daar nou inisiatiewe van privaat maatskappye om draagbare stoele en tafels te ontwerp wat leerders dan self elke dag heen en weer kan dra. Dit is nie ’n volhoubare oplossing nie, al is dit innoverend. Talle leerders stap reeds elke oggend etlike kilometers skool toe, nou sal hulle dit moontlik met ekstra bagasie moet doen.

Begrotingstekorte ten spyt bly die tekort aan onderwysers een van die grootste probleme by skole. Om onderwysers af te dank kan dalk een probleem oplos, maar talle ander sal beslis geskep word. Dit sal nie in die beste belang van die leerders wees om nóg minder onderwysers te hê nie. Klasse is reeds oorvol en plek-plek is daar meer as een graadgroep in dieselfde klas met een onderwyser wat verantwoordelik is vir almal se onderrig. Minder onderwysers sal nóg voller klasse tot gevolg hê en die kwaliteit van onderrig wat elkeen van hierdie leerders ontvang, sal ongetwyfeld afneem.

Minder onderwysers sal ook die reeds bestaande probleem van ’n oorvloed werk en te min tyd verder vererger. ’n Onvermydelike gevolg hiervan is dat belangrike vaardighede wat meer tyd in beslag neem – soos lees – in die slag bly. Die 2030 Reading Panel-verslag wat einde Februarie uitgereik is, toon juis dat 80% van Suid-Afrikaanse gr. 3-leerders nie in enige taal met begrip kan lees nie en dat sowat 70% van gr. 6-leerders se leesbegrip in hul onderrigtaal ook ontoereikend is. Dié probleme kom hoofsaaklik weens die feit dat daar nie genoegsame tyd aan die ontwikkeling en inoefening van hierdie vaardighede spandeer word nie.

Uiteindelik is dit ’n kan-nie-wen-nie-dilemma waarin onderwysers is en daar moet fondse beskikbaar wees vir hul salarisse, maar skoolinfrastruktuur wat veilig en goed onderhou is, is ook noodsaaklik. Een ding is egter seker, leerders én onderwysers gaan iewers aan die kortste ent trek.

Soortgelyke plasings