NVG se traagheid in 81-jarige boer se moordsaak ’n skandelike onreg – AfriForum
Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)
AfriForum hou vol dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) skuldig staan aan ’n skandelike onreg nadat daar vandeesweek besluit is om die saak van die moord op Hendrik Venter, ’n 81-jarige boer van Kuruman, van die hofrol te verwyder. Venter is in September verlede jaar op sy plaas vermoor. Die besluit om die saak te verwyder het nou daartoe gelei dat die beskuldigdes in dié saak hangende verdere ondersoek uit aanhouding vrygelaat is. Dit volg nadat senior aanklaers in die saak maande lank onderneem het om die saak vanweë die erns daarvan te eskaleer.
AfriForum doen ’n beroep op die NVG en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om die onreg onmiddellik reg te stel, die saak dringend te hervat en toe te sien dat geregtigheid nie langer uitgestel of ontsê word nie.
Die burgerregteorganisasie het uitgereik na die Venter-familie en hul regsverteenwoordiger en ondersoek tans die prosessuele gebreke wat tot dié uitkoms gelei het. AfriForum beskou die NVG se optrede in die Venter-saak as nog ’n voorbeeld van die staat se toenemende onverskilligheid teenoor die slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle.
AfriForum voer aan dat chroniese vertragings, administratiewe probleme en ’n tekort aan die wil om te vervolg, die saak tot dusver gekenmerk het. Voorts was daar ten tyde van die verhoor nie ’n Regshulp SA-verteenwoordiger vir die beskuldigdes teenwoordig nie. Ten spyte daarvan het die staat nie beswaar aangeteken nie, geen verduideliking gebied nie en ook nie enige stappe gedoen om die integriteit van die verrigtinge in stand te hou nie. Die landdros het hierna die saak van die hofrol verwyder en stagnante ondersoek as die rede daarvoor voorgehou.
Benewens dié probleme het ernstige vertragings in die verwerking van forensiese bewysstukke wat ’n noemenswaardige bydrae tot die ineenstorting van die saak gehad het, nou aan die lig gekom. Die SAPD ondervind reeds jare lank agterstande in die verwerking van forensiese bewysstukke en toon geen betekenisvolle vordering om die saak te beredder nie. AfriForum het op sy beurt ook al telkens gepleit vir die gebruik van privaat forensiese laboratoriums om die proses te bespoedig en vertragings in kriminele sake te beperk, maar dit blyk dat die SAPD genoeë is met die huidige wanfunksionering, selfs al beteken dit dat moordenaars skotvry loop.
“Dit is nie net ’n administratiewe mislukking nie – dit is ’n algehele onreg,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Wanneer ’n burger brutaal vermoor word by sy plaashek en die beskuldigdes loop skotvry weens prosessuele passiwiteit en ’n forensiese stelsel wat ineen stort, moet daar tereg gevra word aan wie se kant die regstelsel is.”
AfriForum beklemtoon dat die Venter-saak wys op ’n patroon gekenmerk deur nalatigheid en ’n afwesigheid van politieke belangstelling in plaasaanvalle. Die versuim om die verwydering van die saak teen te staan, ten spyte van ondernemings om dit na ’n streekshof te eskaleer, dra ’n bittere boodskap aan slagoffers oor wat benadruk dat hul lyding nie prioriteit geniet nie.
“Die Venter-gesin, en die talle ander wat soortgelyke verliese gely het, verdien meer as leë sekerheid. Hulle verdien aanspreeklikheid, dringendheid en optrede,” voeg Broodryk by.
AfriForum dring voorts ook by regeringslui en vervolgingsorwerhede daarop aan om met die burgerlike samelewing en slagofferverteenwoordigers saam te werk om toe te sien dat die publiek se vertroue in die regstelsel herstel word. “Die oplossing lê nie opgesluit in stilte of rompslomp nie, maar in deursigtigheid, samewerking en ’n gedeelde verbintenis tot geregtigheid vir almal,” sluit Broodryk af.