Nuwe AfriForum-dokumentêr werp lig op raswette, onteiening en plaasmoorde
AfriForum het gister (24 Maart) ’n nuwe dokumentêr bekendgestel waarin Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, ondersoek instel na die vraag op soveel mense se lippe: Is president Donald Trump reg oor Suid-Afrika? Die dokumentêr, getiteld Is Trump right about South Africa?, is reeds op YouTube beskikbaar. Die soeklig val in die dokumentêr op raswette, onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde.
“Die doel van die dokumentêr is om die waarheid oor die Suid-Afrikaanse regering se vernietigende, immorele beleide te ontbloot, en om die ANC se propagandamasjien teen te werk,” sê Van Zyl.
Daar is sedert 1994 ’n totaal van 117 raswette ingestel.
Martin van Staden, hoof van Beleid by die Instituut vir Rasseverhoudings, sê in die dokumentêr daar is tans 142 wette in Suid-Afrika waarin ras ter sprake is. Daar is sedert 1994 ’n totaal van 117 raswette ingestel. Van Staden sonder die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BGSEB), die Wet op Gelyke Indiensneming, die Mededingingswet en die Wet op Openbare Verkrygings uit as wette wat die hoofredes is vir ekonomiese agteruitgang in die land. Voorts meen hy alle maatskappye word direk of indirek gedwing om nierassigheid prys te gee deur SEB-teikens te haal om sodoende in aanmerking vir allerlei kontrakte te kom.
“Die ANC-regering se beleide werk nie, maar eerder as om ’n nuwe rigting in te slaan, probeer hulle om die ou beleide nóg strenger aan te wend asof hulle nog net nie hard genoeg probeer het om dit te laat werk nie,” sê Van Staden.
Hy sê verder dat daar sedert 1991 nie meer ’n duidelike definisie is van wie tot watter ras behoort nie en dat dit die toepassing van raswetgewing nog verder bemoeilik.
President Cyril Ramaphosa het in Desember verlede jaar die omstrede Onteieningswet onderteken. Dié wet bevat onder meer ’n klousule wat onteiening teen nul-vergoeding moontlik maak. Alhoewel onteiening teen nul-vergoeding in teorie net in besonderse omstandighede moontlik behoort te wees, voer dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerderynetwerk Saai, in die dokumentêr aan dat rooi ligte oor dié wet en die spesifieke klousule flits.
“Ek sê nie Suid-Afrika sal dieselfde paadjie as Zimbabwe stap nie, maar ’n mens kan nie die moontlikheid uitsluit nie. Die reg tot privaat eiendom is uiters belangrik en waar dit ontbreek sal die ekonomie en voedselsekerheid daaronder ly,” waarsku hy.
Volgens De Jager kan die regering eerder grond teen ’n regverdige markwaarde bekom as om boere in te loop. Hy gee voorbeelde van gevalle waar die regering in die verlede wel grond of ander eiendom sonder vergoeding bekom het en vertel van die hofstryd wat in elke geval gevolg het. Soos die wet geskryf is, sal iemand wie se grond onteien word, wel die hof om hulp kan nader, maar sal ongeag tot die afloop van die hofsaak, gebruik van die grond verloor. Daar word geraam dat as iemand vandag onteien word, hulle op die vroegste eers in 2028 in die hof sal verskyn om die meriete van die saak te laat toets. Vir die gewone burger sal dié proses onbekostigbaar wees.
Van Zyl gee ook in Is Trump right about South Africa? ’n kort blik op plaasmoorde en veral die rol wat die dreunsang “Kill the Boer” in dié konteks speel. Videogrepe van Julius Malema, leier van die EFF, is ingesluit waar hy die lied sing en in die hof weier om homself daartoe te verbind om nie in ’n stadium vir die uitmoor van wit mense te vra nie.
“Dis nie altyd maklik om vir die waarheid te baklei nie, maar gelukkig het die waarheid vasberade, dapper bondgenote,” sluit Van Zyl af.
Is Trump right about South Africa? is nou beskikbaar op AfriForum se YouTube-kanaal.