Nuuskommentaar: Wrede moorde duur voort, terwyl VSA plaasaanvalle veroordeel en plaaslike politici swyg
Deur Ilze Nieuwoudt
Drie moorde in net ses weke. Dít is die bittere werklikheid waarmee die landelike gemeenskap van Kameeldrift, noordoos van Pretoria, tans gekonfronteer word.
Eers is die 70-jarige Carolina Frederika Dicks op 24 Junie op haar kleinhoewe vermoor. Haar voertuig en sekere huishoudelike items is gesteel.
Skaars vier dae later, op 28 Junie, vind nóg ’n aanval op ’n nabygeleë hoewe plaas. Hierdie keer oorval tussen drie en ses verdagtes ’n bejaarde man en vrou. Die man word met ’n panga in die gesig gekap en ’n skoot word afgevuur in die huis waarin die verswakte vrou woon.
Op Donderdag 24 Julie tref tragedie wéér dié landelike gemeenskap. Hierdie keer word die 82-jarige Johannes Stefanus Mostert – beter bekend as “Oom Mossie Mostert” – in die Buffelsdrift-bewaararea aangeval. Luidens mediaberigte is Oom Mossie, ’n bekende in landboukringe, die aand deur minstens vier aanvallers oorval. Hy is verniel, met draad vasgebind, met ’n skerp voorwerp gesteek en beroof. Hy is op pad na die hospitaal oorlede.
Die afgelope Maandag – 28 Julie – vind die derde wrede moord plaas toe die 46-jarige eggenoot en pa van drie, Jaco “Chappies” Strydom, op sy kleinhoewe aangeval en doodgeskiet is.
In ’n onderhoud met Netwerk24 verduidelik Petrus Nel, voorsitter van die Kameeldrift-gemeenskapspolisiëringsforum dat die uitdagings omvangryk en die hulpbronne min is. Die GPF, buurtwagte en privaat sekuriteitsmaatskappye patrolleer so gereeld moontlik in samewerking met die Kameeldrift-polisie ’n gebied van nagenoeg 270 km2 in ’n poging om misdaad wat die gebied teister, hok te slaan.
Ian Cameron, voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Polisie, het teen die einde van Junie in reaksie op die panga-aanval wat op 28 Junie in Kameeldrift plaasgevind het, verklaar: “Ons landelike gemeenskappe bly onder beleg.”
Die afgelope paar weke se aanvalle op een van talle landelike gemeenskappe wat oor die hele land versprei is, stel dit duidelik – dié gemeenskappe ís onder beleg. Cameron se woordkeuse en besluit om plaasaanvalle en die invloed daarvan op die landelike gemeenskappe as’t ware in militêre terme te beskryf, bevestig die erns van hierdie misdaad.
In hierdie spreekwoordelike “oorlog” teen plaasaanvalle, is politieke leiers, soos president Cyril Ramaphosa, se stilte en miskenning van die krisis egter oorverdowend. Daarenteen het die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid vandeesweek hul bevindinge van ’n ondersoek na die voorkoms van plaasaanvalle en die kwessie van landelike veiligheid in Suid-Afrika, bekendgestel.
Die buro het onder meer bevind dat plaasaanvalle nie gewone misdade is nie, maar dat slagoffers in sekere gedokumenteerde gevalle gemartel of vermoor word sonder dat enigiets gesteel word.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het in reaksie op die verslag die ANC-geleide regering gekritiseer vir hul versuim om plaasmoorde met die nodige erns te hanteer en gewaarsku dat die diplomatieke verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA verder hierdeur benadeel word. Die buro het in ’n plasing op die sosialemediaplatform X gesê “die huidige ineenstorting van wet en orde [in Suid-Afrika] is nie bevorderlik vir groei of samewerking met die Verenigde State nie.” Hulle het voorts benadruk dat die Suid-Afrikaanse regering beslissend moet optree om misdaad te takel en die geweld wat hier woed te veroordeel.
En terwyl die gemeenskap van Kameeldrift in rou gedompel is ná die onlangse moord op ’n weerlose vrou, ’n bejaarde man en ’n pa, en daar gepoog word om sin te maak van die wrede panga-aanval op ’n man van dieselfde omgewing, het die Amerikaanse verslag bevestig wat die mense van Kameeldrift en bykans elke landelike uithoek van die land reeds weet – plaasaanvalle is geen gewone misdade nie.