Nuuskommentaar: Trump-tarief: Wat hou die “oes” vir ons in?
Deur Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum
President Donald Trump se tariefbom het hierdie week behoorlik gebars en hoewel die implementering daarvan vroeër met 90 dae opgeskort is om ruimte te laat vir onderhandelinge, het die ANC-geleide regering ’n kop-in-die-sand-benadering gevolg. Die implementering van ’n 30%-tarief op invoere na die VSA uit Suid-Afrika tree op 1 Augustus in werking en dit is duidelik dat Suid-Afrikaners nou die wrang vrugte smaak van die regering se voetslepery en ontkenning van probleme.
Om dié flater van die ANC-geleide regering te kroon, het president Cyril Ramaphosa kort ná die aankondiging oor die tarief wat die land opgelê is, in ’n verklaring te velde getrek teen Trump se interpretasie van die handelsbalans tussen Suid-Afrika en die VSA. Hy het voorts aangevoer dat Suid-Afrika diplomatieke pogings sal voortsit om ’n “meer gebalanseerde en wedersydse voordelige handelsooreenkoms” te bewerkstellig.
Intussen het Parks Tau, die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, ook hierdie week aangekondig dat hulle in die proses is om die impak van die invoertarief te versag. Hy het Woensdag (9 Julie) in ’n parlementêre antwoord aangevoer dat die regering “sy reaksie op hierdie verwikkeling” finaliseer. Ramaphosa het blykbaar ook by die Brics-beraad in Brasilië hierdie week gesê die 30%-tarief is onderhewig aan wysiging na die finalisering van onderhandelinge met die VSA.
Die ANC-geleide regering het, nes die res van die wêreld, drie maande gehad om die Trump-administrasie se besware te oorweeg. Anders as vele ander lande wat spoedig begin onderhandel het, het die Suid-Afrikaanse regering egter gesloer en probeer om nou die kastaiings uit die vuur te krap.
Hierdie situasie herinner aan Aesopus se fabel van die sprinkaan en die mier. Eerder as om aan ’n oplossing te werk vir ’n probleem met ’n sperdatum, het die ANC en hul vennote in die regering van nasionale eenheid hul 90 dae lange somer vermors. Nes die sprinkaan in die verhaal het hulle verkies om in hierdie tyd eerder die lied van ontkenning te sing, die dans van arrogansie te dans en die speletjies van onverantwoordbaarheid te speel. Die ANC het meer tyd bestee aan die teiken, swart smeer en straf van mense wat ongemaklike waarhede oor hulle ontbloot, eerder as om die diplomatieke krisis met die VSA te ontlont. Vele van hul bondgenote in die media het hulle al te gretig hiermee gehelp. Nou waai die snerpende wind van die gevolge van hul eie aksies deur Pretoria, en die land staan op die drumpel van ’n koue “tariewewinter”.
Nie alle lande het na afloop van die grasietyd onverrigtersake weggestap nie. Lande soos China, Viëtnam en die Verenigde Koninkryk het byvoorbeeld deur middel van doeltreffende onderhandelinge en hul bereidwilligheid om die probleme waarop die Trump-administrasie gewys het, uit die weg te ruim, daarin geslaag om gunstige handelsooreenkomste te sluit.
Onkunde is ook geen verskoning nie. Die Trump-regering het onlangs aan ’n Afrikaner-delegasie wéér hul voorwaardes en eise aan die Suid-Afrikaanse regering beklemtoon. Eerstens moet plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade geklassifiseer word. Tweedens moet die ANC die aanstootlike “Kill the Boer”-dreunsang duidelik, onvoorwaardelik en ondubbelsinnig in die openbaar veroordeel. Derdens mag geen grondonteiening plaasvind sonder billike, markverwante vergoeding nie; en laastens moet VSA-entiteite vrygestel word van alle diskriminerende rasgebaseerde wetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging.
’n Nugter, verantwoordelike regering sou die 90 dae benut het om ’n oplossing te bedink vir elkeen van die wrywingspunte wat die VSA uitgewys het. Dit blyk egter dat die ANC nie bereid is om toegewings te maak nie. Hulle hou vol dat hierdie kwessies op “misinformasie” gebaseer is en dat die diplomatieke krisis tussen die Suid-Afrikaanse regering en die Trump-administrasie op een groot misverstand neerkom.
Oor die bittere oes van verkwiste tyd het C.J. Langenhoven geskryf:
Die wêreld die draai:
Vir die swaar wintertyd om ons lande te saai –
Of om luilekkerlewend die ploeg te laat roes,
En daarna ons vrugte of onkruid te oes.
Die vraag is nou – gaan Suid-Afrika onkruid oes of verandering bewerkstellig en die soet vrugte daarvan pluk? Net tyd sal leer.