Nuuskommentaar: Toenemende ekonomiese kommer en onmin in RNE – ’n gevaarlike kombinasie
Deur Zel-Marí Gelderblom
Suid-Afrika bevind hom tans in ’n gevaarlike posisie van politieke onsekerheid en ekonomiese druk. Aan die een kant staar ’n leierskapskrisis die land in die gesig, met ’n regering van nasionale eenheid (RNE) wat toenemend verdeeld en onbestendig voorkom. Aan die ander kant is daar ’n ekonomie wat onder die las van werkloosheid, inflasie, beurtkrag en beleggingsonsekerheid steier. Hierdie kombinasie is nie bloot ongerieflik nie; dit is gevaarlik.
Sedert Mei 2024 is Suid-Afrika een van verskeie lande wat tans onder ’n regering van nasionale eenheid of ’n soortgelyke inklusiewe regeringsvorm funksioneer. Na afloop van die 2024-verkiesing, waartydens geen enkele party ’n volstrekte meerderheid behaal het nie, is ’n RNE saamgestel bestaande uit tien partye – onder meer die ANC, DA, IVP – met die oog op kollektiewe regering om die land se sistemiese krisisse te takel.
Tog is dit belangrik om te onderskei: Suid-Afrika se RNE verskil fundamenteel van die tipiese koalisieregerings wat in gevestigde demokrasieë soos Duitsland, Nederland en Maleisië funksioneer. In daardie lande berus koalisies op samewerking tussen kleiner ideologies verwante partye. Die Suid-Afrikaanse RNE is ’n veel breër projek waarin ideologies uiteenlopende partye in een uitvoerende gesag saamgegooi is. Soos in die geval van ander lande wat soortgelyke strukture het, soos Libië, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) en die Solomonseilande, is die sukses van só ’n regering sterk afhanklik van politieke volwassenheid en kollektiewe visie.
In die plaaslike konteks is daar egter duidelike tekens van spanning. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het onlangs erken dat daar nie ’n besluit geneem om die RNE ongedaan te maak nie, maar dat daar wel gepraat moet word. Op haar beurt het Helen Zille, die voorsitter van die DA se federale raad, laat deurskemer dat die DA se deelname aan die RNE nie gewaarborg is nie. Sy het onlangs gesê: “Binne of buite? Die antwoord kan verander.” Uit Zille en Mbalula se uitlatings is dit duidelik dat daar onsekerheid heers oor die RNE wat die kernfunksie daarvan, naamlik stabiliteit, ondermyn.
Die gevolge hiervan op die ekonomie is egter vinniger sigbaar. Beleggingsbesluite word uitgestel, beleidsrigtings oor energie, arbeid en belasting haak vas in ideologiese verskille, en vertroue – van beleggers én burgers – verswak. Soos in lande soos Soedan en Mianmar, waar pogings tot eenheidsregerings met interne verdeeldheid stoei, loop Suid-Afrika die gevaar dat politieke onsekerheid die ekonomiese fondament verder erodeer.
Te midde van hierdie onsekerheid begin gemeenskappe hul eie oplossings soek – wettig of nie. Selfhelpmaatreëls neem toe. Dit dui op ’n verskuiwing weg van staatsgesag na plaaslike of privaat alternatiewe wat die sosiale kontrak verder verswak.
Tog bied internasionale voorbeelde hoop. Maleisië se eenheidsregering onder Anwar Ibrahim, byvoorbeeld, toon dat dit wél moontlik is om stabiliteit te bereik wanneer verskillende partye met ’n gedeelde visie en verantwoordelikheid saamwerk. Die sleutel? Politieke wil, ’n gees van kompromie en volwassenheid.
Die RNE het nie net politieke bestuur nodig nie, maar leierskap. Suid-Afrikaanse partye moet besef dat hierdie struktuur nie net ’n taktiese tydverdryf is tot die volgende verkiesing nie – dit is ’n toets van hul vermoë om die land deur ’n kritieke oorgangsfase te help. Indien hulle versuim om saam te werk, wag daar nie net ’n ekonomiese afgrond nie, maar moontlik ook toenemende populisme, protes en polarisasie.
Die uurglas loop leeg. Die wêreld kyk. Die RNE is nie ’n gerieflike opsie nie – dit is ’n laaste kans. Die vraag is of Suid-Afrika se leiers dié kans gaan aangryp.