Nuuskommentaar: NGV in die gange van Britse hospitale
Die Britse Royal College of Nursing het in Januarie vanjaar ’n verslag uitgereik getiteld On the frontline of the UK’s corridor care crisis. Daarin word oor 460 bladsye beskryf hoe verpleegsters pasiënte in die gange van Britse hospitale moet versorg, omdat daar nie genoeg beddens beskikbaar is nie – ’n simptoom van die insinking van die National Health Service (NHS).
Bykans terselfdertyd het die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Gesondheid ’n advertensie vir die beoogde NGV-stelsel uitgereik waarin Brittanje geloof word as een van die “beskaafde lande” wat ’n NGV-stelsel het wat die oplossing kan bied vir stygende mediese koste in Suid-Afrika.
Die Britse NHS bestaan reeds sedert 1948 en het in die afgelope jaar ’n begroting van meer as R 4 biljoen (oftewel R 4 000 000 000 000 = R 4 trillion) gehad. Vergeleke met die minder as R800 miljard rand waarop die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid aanspraak maak dat NGV sal kos. Die NHS het oor die afgelope paar jaar berug geword vir lang wagtye en ongevalle-eenhede wat gevolglik oorstroom word.
Boonop het byna ’n driekwart van mediese studente in Brittanje in ’n onlangse peiling aangedui dat hulle nie onder die NHS sal wil praktiseer wanneer hulle afgestudeer het nie.
As ons die situasie in Suid-Afrika en Brittanje met mekaar vergelyk, lyk dit dus so:
- Brittanje en SA se bevolkingsgroottes is soortgelyk.
- Die hoeveelheid pasiënte wat van privaat mediese sorg gebruik maak, is tans min of meer ewe veel in die twee lande.
- Die Britse NHS bestaan al meer as 75 jaar lank.
- Suid-Afrika wil nou eers begin met NGV.
- Daar is vier maal soveel dokters in Brittanje as in Suid-Afrika.
- Die NHS se begroting is ten minste vyf keer groter as die hoeveelheid belastinggeld wat vir NGV ingewin kan word in Suid-Afrika.
- Die NHS is besig om te misluk.
- Die Suid-Afrikaanse regering vertel dat NGV gaan slaag.
- Die NGV-wet wil dan boonop privaat mediese fondse verbied om dieselfde dienste te dek wat NGV op papier sal doen.
Die Britse joernalis, Mary Harrington, beskryf in ’n 2023 artikel hoe die Britse NHS boonop van die begin af onbekostigbaar was en slegs befonds kon word deur stuk-stuk Brittanje se internasionale bates en geopolitieke invloed te verkoop. Nou is hierdie bates gedaan en Brittanje ervaar ’n krisis.
Die historiese en onlangse getuienis dui dus oorweldigend op die volgende: gesentraliseerde, staatsbeheerde gesondheidstelsels is ’n las en ’n hindernis vir eerstewêreldlande soos Brittanje, en is ’n totale onmoontlikheid vir ’n korrupsiebesmette Suid-Afrika.