Nuuskommentaar: Matriekuitslae 2025 en die reg tot privaatheid
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Ses weke gelede het ’n volbank regters die betoë van verskeie partye aangehoor in ’n hofsaak wat handel oor die bekendmaking van matriekuitslae in die media en op ander openbare platforms. Uitspraak is voorbehou en sedertdien wag verskeie mediahuise en matrikulante angstig daarop.
Die saak het ’n lang aanloop. In 2021 het die Departement van Basiese Onderwys besluit dat die uitslae nie meer bekendgemaak sou word nie. Verskeie matrikulante en Maroela Media het AfriForum genader om hul reg tot openbare toegang tot dié inligting te beskerm. In regsaksie wat gevolg het, het regter Anthony Millar die partye in 2022 gelyk gegee dat die bekendmaking in openbare belang is. Hy het ook saamgestem dat die gebruik van slegs eksamennommers (in plaas van name) leerders se identiteit voldoende beskerm.
Ten spyte hiervan het die Inligtingsreguleerder (IR) aan die einde van 2024 opdrag aan die departement gegee om nie 2024 se uitslae te publiseer nie. Die departement kon nie aan die opdrag gehoor gee nie, omdat dit steeds deur die hofuitspraak van 2022 gebind was om dit wél bekend te maak. Weerhouding sou neerkom op minagting van die hof.
Die departement se dilemma het tot ’n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gelei. Die regter het ten gunste van die bekendmaking van 2024 se uitslae beslis, maar regsaksie oor die meriete van die bekendmaking moes nog volg. Dít is die saak wat op 27 en 28 Oktober aangehoor is.
Aan die een kant het die departement, AfriForum, Maroela Media en enkele matrikulante ten gunste van openbare toegang tot die uitslae betoog, terwyl die IR aangevoer het dat leerders mekaar se eksamennommers kan memoriseer en dan mekaar se privaatheid sal skend as die uitslae op openbare platforms beskikbaar is.
Verskillende oplossings is al voorgestel, byvoorbeeld dat die eksamennommers lukraak toegeken moet word, of dat leerders of hul ouers se toestemming vir publikasie vooraf verkry moet word. Al hierdie oplossings sal wel ’n ekstra las op die departement se hulpbronne laai.
Die saak mag beuselagtig klink, maar in werklikheid gaan dit oor die veel meer omvattende kwessie van die reg tot privaatheid. Die feit dat ’n volbank van drie regters die saak oor twee dae aangehoor het, bewys die erns waarmee dit hanteer word.
Verskillende standpunte oor die mate waartoe privaatheid beskerm moet word, is nog nie tevore in soveel besonderhede deur die IR as instelling wat vir die toepassing van wetgewing hieroor verantwoordelik is, en ander belanghebbende partye ontleed en uiteengesit nie.
Die uitspraak sal dus nie net vir die matrikulante van 2025 en daarna duidelikheid oor toegang tot hul uitslae bied nie, maar oor alle inligting wat tans as in openbare belang beskou word. Daar is nog geen aanduiding van wanneer die uitspraak gelewer sal word nie, maar die 2025-matriekgroep se uitslae sal op 12 Januarie 2026 gereed wees. Dit sal dus voor daardie datum moet wees. Intussen kou die regspanne en partye aan weerskante van die saak naels oor die gevolge van die afloop van hierdie waterskeidingsaak.



