|

Nuuskommentaar: Kommissie van ondersoek dalk net nóg ’n rookskerm

Deur Marthinus Koekemoer

Luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, het verlede week opspraakwekkende aantygings oor Senzo Mchunu, minister van Polisie, gemaak. Dit het president Cyril Ramaphosa genoop om Mchunu op spesiale verlof te plaas. Die president het voorts ook Sondag ’n regterlike kommissie van ondersoek in die lewe geroep om dié verdoemende aantygings van korrupsie te ondersoek.

Mkhwanazi se bewerings van korrupsie teen hooggeplaaste individue, insluitend Mchunu, het sedert verlede week skokgolwe deur die land gestuur. Mkhwanazi het onder meer beweer daar is pogings om hoëprofiel-ondersoeke te saboteer en individue wat by georganiseerde misdaad en korrupsie betrek word, te beskerm.

Luidens mediaberigte het verskeie organisasies, insluitend Cosatu en die Menseregtekommissie, sedertdien by Ramaphosa daarop aangedring om ’n kommissie aan te stel om dié bewerings te ondersoek. Nie almal was egter ewe tevrede met Ramaphosa se besluit nie. Jacob Zuma se MK-party het die kommissie afgemaak as ’n duur politieke oefening waardeur die ANC en die regering van nasionale eenheid se onwettige aktiwiteite toegesmeer kan word. Die DA-leier, John Steenhuisen, het op sy beurt gesê Ramaphosa kontrakteer met die kommissie as’t ware sy verantwoordelikhede uit.

Dit wil voorkom asof Ramaphosa die aantygings teen Mchunu in ’n ernstige lig beskou, maar daar kan tereg gevra word of dié stappe nie bloot ’n politieke skuif is nie. Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het vandeesweek in ’n mediaverklaring aangevoer dat Ramaphosa se plan neerkom op ’n politieke antwoord op ’n kriminele probleem. Dit laat dit op die kort termyn lyk of die president optree teen korrupsie, maar dit skep ook die geleentheid om die probleme onder die mat in te vee – of in die rusbank weg te steek.

Ramaphosa se kommissie van ondersoek sal nou die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), die regbank en die Johannesburg- en Tshwane-metro se metropolisie ondersoek. Oor waarom dié ondersoek nie deur bestaande ondersoekeenhede onderneem word nie, is nog onduidelik. AfriForum het wel dié kritieke vraag gestel, en meen dit wys moontlik daarop dat bestaande eenhede óf nie die vermoë het om die ondersoek aan te pak nie óf dit nie sonder vooroordeel kan doen nie.

Professor Firoz Cachalia is intussen aangestel om waar te neem as minister van Polisie. Cachalia is tans professor in regte aan die Universiteit van die Witwatersrand en voorsitter van die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad. Die MK-party het dié aanstelling as ongrondwetlik afgemaak, maar artikel 91 van die Grondwet maak voorsiening vir die president om aanstellings van ministers na eie goeddunke te doen.

En asof die week in politiek nog nie lank of opwindend genoeg was nie, is daar teen Dinsdagaand aangekondig dat die huidige minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, in Cachalia se plek sal waarneem totdat dié teen die einde van die maand beskikbaar sal wees vir sy nuwe amp. Intussen is daar Woensdag aangekondig dat Mchunu ook nou strafregtelik ondersoek sal word. Wie weet wat volgende week vir dié departement gaan inhou?

Wat wel seker is, is dat die publiek se vertroue in die SAPD nie gou gaan herstel nie. Volgens ’n ontleding deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing wat hierdie week vrygestel is, is landsburgers se vertroue in die polisie op ’n laagte punt van 22% – blykbaar die laaste vlak in die afgelope 27 jaar.  

Terwyl sommige dus hoop plaas op Ramaphosa se kommissie om by die wortel van die kwaad uit te kom, is sommige kenners nie so optimisties nie. Die kommissie is veronderstel om hul ondersoek binne drie tot ses maande af te handel. Daarenteen was die Zondo-kommissie amper vier jaar lank aan die gang – ’n proses wat die belastingbetaler bykans ’n R1 miljard gekos het. Gaan dinge nou anders wees? Of sal die ondersoek die publiek se skrale vertroue in die polisie en regering selfs ’n verdere knou toedien?

Soortgelyke plasings