Nuuskommentaar: Internasionale Museumdag (18 Mei) se oproep tot ons
Internasionale Museumdag word jaarliks op 18 Mei en in die dae daaromheen gevier. Die doel daarmee is om bewustheid te skep vir hierdie instellings se belangrike rol as rentmeesters van kulturele identiteit, geskiedenisbewaarders en inligtingsbronne. In 2024 het meer as 37 000 museums in ongeveer 158 lande aan Internasionale Museumdaggekoppelde aktiwiteite deelgeneem.
Vanjaar se tema vir vierings is “Die toekoms van museums in snel veranderende gemeenskappe”. Die idee is dat wyses waarop museums tot kulturele verryking en die ontwikkeling van wedersydse begrip tussen gemeenskappe kan bydra, ondersoek word. Plaaslik en internasionaal is daar groot behoefte aan hierdie funksies.
Dit is daarom kommerwekkend om op die agteruitgang by vele Suid-Afrikaanse museums te let.
Om twee voorbeelde te noem:
Die kontroversie om Robbeneilandmuseum, wat waarskynlik internasionaal die mees bekende instelling is, woed steeds voort, met bewerings van grootskaalse korrupsie en swak bestuur. Die aanstelling van ’n Zimbabwiese burger as hoof erfenisbeampte aldaar is verlede week deur politieke leiers bevraagteken, terwyl die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, onderneem het om ondersoek na buitelanders in poste by dié instelling in te stel.
Nog ’n groot skok is die tydelike sluiting van die oudste huismuseum in die land – die Koopmans-De Wethuis in Kaapstad.
Volgens Iziko-museums, die oorkoepelende entiteit waaronder dit ressorteer, word ’n gewaagde en ambisieuse plan onderneem om dit te “herontwerp”. As deel van dié proses is die inhoud uit die huis verwyder vir bewaring. Vervolgens sal die fasiliteite, infrastruktuur en uitstallings skynbaar opgegradeer word om onder meer erkenning aan die rol van slawe te gee. Iziko-museums verduidelik dat “die beplande sentrumaktiwiteite beide erfenis- en entrepreneuriese ondernemings insluit as die pilare wat sal aanhou om die werk by die museum te inspireer, terwyl die volgende generasie erfenispraktisyns opgelei word”.

Die woord “gewaagde” in die aankondiging, tesame met die ontruiming van die huis laat kommer ontstaan oor die veiligheid van die items wat in die museum uitgestal was. Enige verskuiwing skep ’n risiko van beskadiging en diefstal. Museums word só swak befonds, dat dit nie noodwendig goed beskerm word nie. In die afgelope jare het verskeie instellings onder diefstal deur georganiseerde internasionale sindikate deurgeloop.
Verder is dit belaglik om in ’n beknopte gebou soos hierdie so ’n verskeidenheid aktiwiteite te probeer inpas. Die waarde van ’n huismuseum is om as tydkapsule te dien wat die besoeker terugneem na ’n ander era se lewenswyse, met al die hoogte- en laagtepunte daarvan.

Die huis het juis ook erkenning gegee aan Marie Koopmans-De Wet – ’n unieke vrou in eie reg. Hoewel Iziko-museums die teendeel beweer, bestaan die gevaar dat haar rol tot ’n bysaak in die 111 jaar oue museum se inhoud verskraal kan word ten einde alles te akkommodeer en polities korrek op slawerny te fokus. Ironies genoeg is sy in 1834 gebore – die jaar wat slawe amptelik in die Kaapkolonie vrygestel is.
Die publiek het die geleentheid om by info@iziko.org.za insette oor die herontwerp van die museum te lewer.
Hoewel ons land ’n betreklik kort gedokumenteerde verlede het, het ons reeds te veel kosbare kultuurhistoriese skatte weens finansiële tekorte, misdaad, vandalisme en politiekery verloor.
Hier én elders is dit noodsaaklik dat gemeenskappe betrokke moet raak om te verseker dat ons museums en hulle inhoud veilig bewaar bly, in stand gehou word én ’n gebalanseerde blik op die verlede bied.