|

Nuuskommentaar: Hierdie verslag bewys nié dat mediese fondse rassisties is nie

Deur Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder oor Gesondheidsake

Louis Boshoff, woordvoerder oor Gesondheidsake by AfriForum

Die Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf is die afgelope twee weke in rep en roer oor ’n omstrede verslag wat bevind het dat mediese fondse rassisties optree teenoor swart gesondheidspraktisyns. Die Artikel 59-ondersoekpaneel, onder leiding van adv. Tembeka Ngcukaitobi, moes ondersoek instel na bewerings van onbillike rassediskriminasie en prosedurele onbillikheid deur mediese fondse. Die ondersoekspan het hom onder meer toegespits op die sogenaamde sistemiese leemtes in die toepassing van die Wet op Mediese Skemas, veral ten opsigte van mediese skemas se verhaling van fondse in gevalle van bedrog, vermorsing of misbruik.  

Die verslag is vroeër vandeesmaand aan die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, oorhandig. Ondersoekers het onder meer bevind dat daar gediskrimineer word teen swart praktisyns omdat mediese fondse kwansuis meer geneig is om teen swart medici op te tree in gevalle van bedrog, vermorsing of misbruik.

Discovery Health en die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) het reeds die bevindinge verwerp en talle ander rolspelers het al gewys op foutiewe aannames en metodes wat in die ondersoek gebruik is.

Artikel 59(3)(b) van die Wet op Mediese Skemas bepaal dat indien ’n mediese fonds ’n verlies gely het vanweë diefstal, bedrog, nalatigheid of enige wanpraktyk wat onder die fonds se aandag kom, die fonds daarop geregtig is om ’n bedrag, gelykstaande aan die verlies, af te trek van enige voordeel wat aan die betrokke lid of verskaffer betaalbaar is.

Die artikel op sigself is ingewikkeld verwoord en die toepassing daarvan vereis ’n selfs ingewikkelder proses waarin etlike persone, programme en ondernemings ’n rol speel.

Die Artikel 59-ondersoekpaneel se verslag het op die tydperk van 2012 tot 2019 gefokus en in dié tyd is duisende soortgelyke gevalle aangemeld waarby menige dokters, fondse, administrateurs, pasiënte en praktyke uit alle geografiese en demografiese hoeke van die land betrokke was. Dit beteken dat – as ’n mens die bevindinge van die verslag glo – mense van alle rasse op die een of ander manier gesamentlik betrokke was by rassistiese optrede teenoor swart dokters. Alhoewel dit reeds moeilik sou wees om te glo, is daar nog ’n paar redes waarom die verslag nie werklik bewys wat dit beweer dit bewys nie.

Eerstens het die verslag alle swart, bruin en Indiër praktisyns as “swart” geklassifiseer. Daar is met ander woorde eerder ondersoek ingestel na diskriminasie teen almal behalwe wit dokters. Die ondersoek het dus nie diskriminasie teen alleenlik swart geneeshere bepaal nie.

Tweedens het die ondersoekspan hul rasseklassifikasie op praktisyns se vanne gedoen. Dr. Jansen, dr. Willemse of dr. Adams kon dus as wit of swart geklassifiseer word – afhangende van hoe dié spreekwoordelike “potloodtoets vir vanne” toegepas is.

Derdens dui die ondersoek glad nie aan in hoeveel gevalle praktisyns skuldig bevind is aan bedrog, vermorsing of misbruik nie, en word meer optrede deur mediese fondse teen swart medici, ongeag die geldigheid daarvan, as diskriminerend geag. Daar is bloot aangevoer dat swart mediese diensverskaffers se kanse om as skuldig geïdentifiseer te word 1,5 tot 3,5 keer meer is. Die enigste afleiding wat uit dié bevinding gemaak kan word, is dat indien alle rasse nie presies ewe veel oortredings begaan nie, dit volgens die ondersoekspan noodwendig op diskriminasie neerkom.

Die minister van Gesondheid het hom egter nie deur hierdie ernstige leemtes en mistastings in die studie laat ontmoedig nie. In reaksie op die verslag het hy gesê dat “die hele stelsel hersien [moet] word”. Dit is ’n ingrypende voorstel op grond van ’n uiters bedenklike verslag.

Is dié verslag se bevindinge nie dalk net polities gerieflik vir Motsoaledi nie? Die privaat mediese sektor handhaaf deurlopend hoë standaarde, terwyl die een skokonthulling na die ander gemaak word oor haglike toestande by verskeie openbare hospitale en klinieke. Nou kan die minister te midde van kritiek oor die swak prestasie van sy departement gerieflikheidshalwe antwoord: “Ten minste is óns nie rassisties nie.”

Soortgelyke plasings