Nuuskommentaar: Eskom en Nersa se donkerwerk is konkelwerk
Deur Dalena Beyers, AfriForum-raadgewer vir Plaaslikeregeringsake
Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) is so gereeld in die nuus (meestal om die verkeerde redes) dat ’n mens vergeef kan word as van die slegte nuus wat hierdie week uitgekom het, nie al by die publiek behoorlik registreer het nie. Ongelukkig kan hierdie nuus nie in die doofpot gestop word nie – alhoewel Eskom dit probeer het – want dit raak ons almal.

Eskom se krag gaan volgende jaar, en vir die twee jare daarna, selfs nóg duurder wees as wat hulle oorspronklik aangekondig het. Dié aangepaste tariefverhoging is uiters verdag en sonder enige deursigtige prosesse of publieke deelname tussen Eskom en die reguleerder vasgestel.
Dié gekonkel in die donker tussen Eskom en Nersa behels ’n skikking van R54 miljard wat aangegaan is om Eskom se begroting te versterk ná ’n “berekeningsfout” wat Nersa na bewering met die kragtariefverhogings gemaak het. Volgens Eskom het die reguleerder eintlik ’n R107 miljard-“vingerfout” gemaak (die Eskom-mediaverklaring daaroor bestempel dit as ’n “data input error”) en nou is die kragvoorsiener dié reusebedrag kort op sy begroting.
Eskom het Nersa hieroor hof toe gesleep, maar die saak is uiteindelik op R54 miljard buite die hof geskik. Boonop moes die belastingbetaler ook nog opdok vir beide partye se regskostes.
Foute is menslik, maar hoekom is AfriForum (en baie ander organisasies) so bekommerd én gegrief oor hierdie skikking?
Om te verstaan hoe ernstig dié vergrype werklik is, is dit nodig om eers te weet wat Nersa se rol in die proses is. Die energiereguleerder is veronderstel om die waghond te wees wat moet toesien dat die energiereus nie die mense op grondvlak benadeel nie; wat moet verseker dat Eskom nie pryse opstoot net om wins te maak nie; en wat moet toesien dat energie bekostigbaar en toeganklik is. Om dié behoeftes te vervul, is ’n proses gevestig waarin Eskom eerstens die voorgenome veeljarige tariewe moet bekendmaak. Daarna volg openbare deelname en insette van verskeie bedrywe waarna die tarief aangepas kan word indien daar bevind word dat die verhogings buitensporig is. Hierdie tariewe word dan vir die vasgestelde tydperk bepaal en die res van die industrie en munisipaliteite (en selfs die Reserwebank se inflasiekoers) het dan sekerheid oor wat ten opsigte van kragtariewe verwag kan word.

Eskom is egter al lank in die moeilikheid, onder meer weens die grootskaalse gebruik van son- en ander alternatiewe kragbronne wat tot laer verbruik van Eskom-krag lei. Die publiek se skuif na alternatiewe bronne van krag word boonop versnel deur Eskom, wat in reaksie op dié tendens, sy kragpryse verhoog. Dit is vir Eskom nou so belangrik om meer te vra vir krag, dat hy selfs bereid is om administratiewe prosesse te omseil. En dit is hier waar Nersa ook die skuld moet dra, want in plaas daarvan dat hulle die verbruiker beskerm, konkel die spreekwoordelike skeidsregter en speler in dié krag-wedstryd buite sig van die publiek, kom ooreen oor hoe die spel gaan verloop en skud dan blad oor wat hulle saam besluit het.
Al wat hulle hoef te doen, is om te sê daar was ’n “klein foutjie” in die (regte) proses, en dan word dit eensklaps ’n hofsaak wat (volgens Eskom en Nersa) nie nodig het om aan enigiemand te rapporteer nie.
Nadat alles gesê en gedoen is, kry Eskom dit ook skielik reg om vir die eerste keer sedert 2017 bonusse aan topbestuur te betaal. Toeval? Nee wat, dié gebeure klink vir AfriForum en ander rolspelers wat vir die belange van die publiek veg, net te dik vir ’n daalder. Dit vereis ’n deeglike ondersoek, want op die ou end is dit ons, die verbruikers, wat vir dié gekonkel in die donker moet betaal.