|

Munisipaliteit se WhatsApp-kennisgewing is ongeldig en strydig met wetgewing, maan AfriForum

Die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se gebruik van ’n WhatsApp-boodskap as kennisgewing van ’n amptelike vergadering as deel van ’n openbaredeelnameproses, staan volgens AfriForum se Klerksdorp-tak in ernstige stryd met wetgewing. Die tak eis daarom dat dié “kennisgewing”, wat vir ’n vergadering oor die mediumtermyninkomste- en uitgawesraamwerk (MTREF) versprei is, as ongeldig verklaar word. Die organisasie dring ook daarop aan dat ’n nuwe wetlike kennisgewing uitgereik word, dat die vergadering wat vir vandag (7 Mei) geskeduleer is, uitgestel word om behoorlike openbare deelname te verseker én dat dergelike kennisgewings voortaan in ooreenstemming met wetgewing tydig, amptelik en toeganklik gedoen moet word.

’n Kennisgewing van die vergadering is oorspronklik op 11 April in die Klerksdorp Rekord gepubliseer. Op die dag van die beplande vergadering (14 April), is die kennisgewing egter skielik as “uitgestel” gemerk in die Rekord sonder enige amptelike opvolgkommunikasie aan die publiek, soos die wet vereis nie. Die afgelope naweek is ’n alternatiewe kennisgewing slegs via ’n WhatsApp-groep gesirkuleer, wat die herskeduleerde vergadering vir vandag aangekondig het.

In ’n brief, wat AfriForum gister (6 Mei) aan die Matlosana-munisipaliteit gestuur het, is die kritieke belangrikheid van behoorlike openbare deelname aan die munisipale bestuur beklemtoon. Die organisasie het ook ernstige kommer uitgespreek oor die nienakoming van veral artikels 21 en 21A(1) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswysigingswet 44 van 2003 in die kennisgewingsproses vir die MTREF-deelnamevergadering.

Artikel 21 van die wet vereis dat openbare kennisgewings deur die media aan die plaaslike gemeenskap gekommunikeer moet word in óf ’n plaaslike koerant óf ’n koerant wat in die omgewing versprei word en deur die munisipale raad ’n koerant van rekord erken word óf via ’n radiostasie wat in die munisipale gebied uitsaai. Dié artikel bepaal ook dat die kennisgewings in die amptelike tale van die munisipaliteit, met inagneming van die taalvoorkeure en gebruik van die taal in die gebied, gepubliseer moet word en dat ’n kopie van die kennisgewing, waar van toepassing, in die Provinsiale Koerant moet verskyn. Daarbenewens moet dit ook volgens artikel 21A van die wet vertoon word by die munisipale hoof- en takkantore en biblioteke op munisipale kennisgewingborde by die hoofkantoor en ander amptelike plekke vertoon word, en die kennisgewing moet, indien van toepassing, die gemeenskap uitnooi om insette in te dien.

Hoewel die wet nie volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, ’n pertinente tydraamwerk vir die publikasie van kennisgewings voorskryf nie, word ’n redelike tyd van 14 dae kennis voor ’n geleentheid in die algemeen in munisipale praktyk en riglyne gebruik. In hierdie geval is daar selfs deur die onaanvaarbare kommunikasiekanaal minder as ses dae kennis gegee vir die herskeduleerde datum van 7 Mei.

Volgens Pretorius ondermyn die uitsluitlike gebruik van WhatsApp-kommunikasie vir so ’n belangrike openbare kennisgewing die wetlike vereistes en die fundamentele beginsels van deursigtigheid, aanspreeklikheid en betekenisvolle openbare deelname wat in die Grondwet sowel as die Munisipale Stelselswet verskans is.

“Doeltreffende openbare deelname is noodsaaklik vir demokratiese bestuur, die bevordering van vertroue tussen munisipaliteite en hul gemeenskappe en om te verseker dat besluite die behoeftes en sienings van die mense weerspieël,” sê Frans Roos, AfriForum se beampte vir plaaslikeregeringsake van die Klerksdorp-tak.

“Indien hierdie regstellende stappe nie stiptelik gedoen word nie, behou ons die reg voor om die saak na Noordwes se Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en ander relevante oorsigliggame te eskaleer,” sluit Pretorius af.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Henda Jordaan by 082 783 5272.

Soortgelyke plasings