Moedertaalonderrig bly bobaas
Die kollig val môre (21 Februarie) weer op die belangrikheid van moedertaal wanneer Internasionale Moedertaaldag vir die 25ste jaar gevier word.
Dié dag is deur die Verenigde Nasies (VN) se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ingestel. Volgens dié organisasie is moedertaalonderrig uiters belangrik aangesien dit leerders se begrip, betrokkenheid en kritiese denke verhoog. Die VN dui ook daarop dat moedertaalonderrig van kritieke belang in die verbetering van leeruitkomste is.
Op eie bodem beywer heelwat organisasies soos AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) hulle vir moedertaalonderrig. Die SOS het in sy Matriek 2024-verslag wat onlangs bekendgestel is, benadruk dat moedertaalonderrig vir die organisasie ononderhandelbaar is en die beste vorm van onderrig en opvoeding is.
In dié verslag word die nasionale matriekuitslae vergelyk met die uitslae van Afrikaanse skole en dit is luidens die verslag duidelik dat moedertaalonderrig tog ’n rol speel in leerders se prestasies.
Afrikaanse skole se matriekslaagsyfer vir 2024 was 89,5% teenoor die nasionale gemiddeld van 87,3%. “Die uitstekende prestasie van Afrikaans-enkelmediumskole, beklemtoon nie net die gehalte van dié skole nie, maar ook die waarde van moedertaalonderwys,” lui die verslag.
Uit die 29 769 matrikulante wat verlede jaar aan Afrikaans-enkelmediumskole gematrikuleer het, het 90,7% geslaag en altesaam19 136 onderskeidings behaal.
Wat Afrikaanse skole se wiskundeprestasie betref, het matriekleerders ook uitstekend gevaar. Uit die 17 510 kandidate het 1 651 onderskeidings behaal. Dit is 5,5% beter as die nasionale uitslae. Die SOS-verslag skryf hierdie prestasie grootliks toe aan bekwame onderwysers en moedertaalonderrig wat “die akademiese prestasie van leerders merkbaar versterk”.
Sowat 50% van die skole met die meeste onderskeidings in wiskunde is Afrikaanse skole. Matriekleerders aan Afrikaanse skole het ook, in vergelyking met matrikulante in ander skole, beter presteer in fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe.
In Afrikaans huistaal is ’n slaagsyfer van 98,2% behaal, wat ’n styging in 1,7 persentasiepunte beteken. Luidens die verslag kan die waarde van moedertaalonderrig en sterk taalvaardighede vir akademiese sukses nie oorbeklemtoon word nie. “Wanneer kandidate hul moedertaal goed bemeester, dra dit direk by tot verbeterde prestasie in ander vakke, aangesien leesbegrip ’n onontbeerlike grondslag vir doeltreffende leer vorm.”
Sewe Afrikaanse skole pryk ook op die nasionale lys van skole wat die meeste onderskeidings in 2024 behaal het.
“Die sukses van Afrikaanse skole bewys die waarde van moedertaalonderrig. Moedertaalonderrig behoort uitgebrei te word na ander tale soos isiZulu en isiXhosa om gehalteonderwys in alle gemeenskappe te verseker,” het Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS, gesê.
Ten spyte van die sukses wat Afrikaanse skole behaal, moet daar nog heelwat gedoen word om moedertale en moedertaalonderrig in Suid-Afrika te bevorder. Op die vooraand van Internasionale Moedertaaldag moet ’n mens dalk ’n daadwerklike besluit neem om by te dra tot die uitbou en beskerming van jou moedertaal.