Mislukte pogings om Vrystaatse kragskuld te delg bewys nuwe ingrypings net lippediens
Talle mislukte pogings (sedert 2022) om die Eskom-skuld van vier Vrystaatse munisipaliteite te delg, het AfriForum bekommerd gelaat dat die jongste ingrypings net weer lippediens is. Die jongste planne behels dat die munisipaliteite ’n ingrypingsooreenkoms met Eskom sluit sodat 15 dorpe nie sonder krag gelaat word nie.
“Die minister van Elektrisiteit en Energie, dr. Kgosientsho Ramokgopa, se belofte dat dié dorpe se krag nie deur Eskom afgesny sal word as die munisipaliteite die ooreenkoms sluit nie, stel nie juis inwoners gerus nie. Die betrokke munisipaliteite het al herhaaldelik bewys dat hulle nie aan basiese voorwaardes gehoor kan gee om hul kragskuld te vereffen nie,” sê Deidré Steffens, adviseur vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
In Eskom se kennisgewing aan die gemeenskap van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit sit die kragvoorsiener die verskillende remedies uiteen wat hulle in die verlede gebruik het om die uitstaande skuld te verhaal. Sommige van die maatreëls het behels dat die munisipaliteit deelneem aan die Nasionale Tesourie se skuldverligtingsprogram – die munisipaliteit moes egter dié program verlaat weens nie-nakoming. Voorts was daar ook met die Vrystaatse Provinsiale Tesourie vergader, asook die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, wat op die ou end geen vrugte afgewerp het nie.
“Sommige van hierdie maatreëls het meer as twee jaar gelede begin, maar het nie veel sukses opgelewer nie. Dit behoort nie nodig te wees vir Eskom om nou sulke drastiese maatreëls, wat grens aan menseregteskendings, te oorweeg voordat die nasionale regering uiteindelik besluit om by die krisis in te gryp nie. Gemeenskappe was dalk in die verlede in die duister oor hul munisipaliteite se skuldlas by Eskom, maar die nasionale regering was verseker nie,” sê Steffens.
AfriForum is nie oortuig dat die munisipaliteite in staat is om al die minister se planne om die kragskuld te delg na behore te implementeer nie. Benewens die ingrypingsooreenkoms, wat sal toesien dat munisipaliteite geld vir elektrisiteit in ’n aparte rekening hou om Eskom mee te betaal, is daar onder meer slimmeters aan die provinsie beloof wat peuterbestand is en ’n jaarlikse bedrag van R4 miljard om hul eie hernubare krag op te wek.
“Die feit bly staan dat dit die betrokke munisipaliteite se verantwoordelik gaan wees om hierdie planne in werking te stel. Daar is egter herhaaldelik bewys dat hierdie munisipaliteite lamgelê word deur tenderbedrog en korrupsie,” sê Steffens.
AfriForum voer aan dat intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet by die munisipaliteite nodig is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree wanneer ’n munisipaliteit, soos die Nala-, Moqhaka-, Masilonyana- en Ngwathe-munisipaliteite, nie sy pligte nakom nie. Die munisipaliteite moet onder administrasie geplaas word om te verseker dat die kragskuld vereffen word en om te verhoed dat langdurige kragonderbrekings inbraak maak op inwoners se basiese menseregte.
AfriForum het reeds sy misnoeë oor die dreigende krisis in ’n amptelike skrywe aan Eskom oorhandig en doen nou ’n beroep op die munisipaliteite om alles in die stryd te werp om te verseker dat hulle dorpe nie sonder krag gelaat word nie.
Die burgerregteorganisasie bly daartoe verbind om die regte en welstand van gemeenskappe te beskerm. AfriForum behou ook die reg om verdere stappe te doen sou Eskom voortgaan met die beplande onderbrekings of as die munisipaliteite versuim om die ingrypingsooreenkoms te sluit en aan gehoor te gee.