| |

Misdaadstatistiek – ’n kwessie van perspektief

Deur Johan Nortjé, navorser by AfriForum

Die verskil tussen ’n berg en ’n molshoop is perspektief – en in die geval van misdaad statistiek geld dié beginsel juis te meer. Wanneer ’n daling boonop in misdaad aangekondig word, moet die kwessie van perspektief nooit uit die oog verloor word nie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die misdaadstatistiek vir die derde kwartaal van 2024/2025 op Vrydag 21 Februarie bekendgemaak. Dié statistiek bevat data oor misdaad wat vanaf Oktober tot Desember 2024 plaasgevind het. Die burgerregteorganisasie AfriForum het in reaksie op hierdie statistiek die betroubaarheid van die SAPD se mees onlangse data bevraagteken, ten spyte daarvan dat die polisie se sogenaamde “suksesse” in die daling van misdaad verwelkom het.

As daar na van die syfers gekyk word, lyk dinge op die oog af inderdaad heel rooskleurig. Só is daar byvoorbeeld, wanneer die derde kwartaal van 2024/2025 se statistiek vir kontakmisdade met die ooreenstemmende kwartaal van 2023/2024 s’n vergelyk word, ’n daling in vyf van die sewe kontakmisdade aangemeld – oftewel ’n algehele daling van 1,6% in hierdie kategorie misdade.

As dié syfers egter in ’n breër perspektief oorweeg word, is die prentjie ietwat anders. Vanaf Januarie 2024 tot Desember 2024 – oftewel vanaf die vierde kwartaal van 2023/2024 tot die derde kwartaal van 2024/2025 – het die aantal kontakmisdade met ’n kommerwekkende 9,4% toegeneem. In die derde kwartaal van 2024/2025 is ’n totaal van 187 892 kontakmisdade aangeteken. Daarteenoor is daar in die voorafgaande kwartaal van 2024/2025 ’n totaal van 160 935 kontakmisdade aangeteken. Indien hierdie twee kwartale met mekaar vergelyk word, toon die aantal kontakmisdade ’n toename van nagenoeg 17%.

Hoewel dit uiteraard bemoedigend is om te sien dat daar ’n daling in die aantal kontakmisdade was as die derde kwartaal van 2023/2024 met dié van 2024/2025 vergelyk word, bied 2024 se syfers rede tot kommer. Boonop laat dit vrae oor die polisie se misdaadvoorkomingstaktiek en die sukses – of eerder mislukking – daarvan.

Die jongste misdaadstatistiek het ook die afgelope week ’n debat oor die SAPD se statistiek rakende plaasmoorde ontketen. AfriForum het ook sy stem by die debat gevoeg, die polisie se rekordhouding in twyfel getrek en gewys op die ouditeur-generaal se bevindinge rakende teenstrydighede wat in die optekening van misdaaddata aangemeld is.  

Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se aankondiging dat net een boer in die tydperk vanaf Oktober tot Desember 2024 vermoor is, is volgens AfriForum ook foutief en bevestig die SAPD se gebrekkige metodologie.

Die moord op vyf mense, waaronder ’n kind, wat in 2024 plaasgevind het op wat die polisie self beskryf het as plaas in Nancefield, buite Soweto, is nóg bewys van die SAPD gebrekkige  rekordhouding van plaasmoorde. Hoewel hierdie voorval, luidens ’n mediaberig op ’n plaas uitgevoer is deur ’n groep gewapende mans wat die slagoffers aangeval en geld en beeste van die plaas af gebuit het, is dié voorval nie in die polisie se kwartaallikse misdaadstatistiek as ’n plaasaanval opgeteken nie. Vyf persone is dood in hierdie enkele aanval, maar tog toon die polisiestatistiek dat daar in die betrokke kwartaal in Gauteng slegs een moord op plase of kleinhoewes plaasgevind het.

Hulpbronne word toegeken aan gemeenskappe gebaseer op die misdaadstatistiek, dus is dit van kardinale belang dat die amptelike misdaadstatistiek ’n akkurate prentjie van die misdaadsituasie moet skep. Indien nie, bestaan daar die risiko dat hulpbronne wat benodig word om misdaad te bekamp, buite die bereik gemeenskappe sal val. En terwyl politici slim speel met syfers om die prentjie van moorde, aanranding en ander vorme van kontakmisdade ietwat beter te laat vertoon – staar die harde werklikheid van hierdie gruwelike misdade inwoners van die land steeds elke dag in die gesig, en daardie perspektief mag nie misken word nie.

Soortgelyke plasings