|

Luscombeparkie kry ’n nuwe baadjie danksy Oudtshoorn-tak

AfriForum se Oudtshoorn-tak het hul deelname aan die organisasie se jaarlikse #HerstelEnVersnel-projek op ’n kleurvolle noot afgeskop deur ’n muur in die Luscombe-parkie te verfraai.

Dié muur wat sowat 140 m² beslaan en uit rooibaksteen, rou sementsteen en beton bestaan is deur die loop van drie dae geverf. Die muur is eers voorberei en deeglik met ’n bindmiddel geseël waarna dit met ’n mengsel van bindmiddel en verf geverf is. Die tak het 65 liter verf en 50 liter bindmiddel gebruik om dié muur op te knap. Die tak het ook die beton vullisdrom wat hulle op ’n vorige geleentheid in die parkie laat installeer het, helder groen geverf. Die tak bedank graag vir PJ Painters wat die verwerk hanteer het.  

Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, sê die tak is opgewonde om nog meer projekte soos hierdie tot voordeel van die gemeenskap aan te pak. “Ons is trots op ons dorp, en ons gaan nie wag vir iemand anders om ons omgewing te verbeter of te verfraai nie – ons neem eienaarskap en doen dit sommer self.”

AfriForum is al vanaf 2019 betrokke by hierdie parkie toe die Oudtshoorn-tak ses bome hier aangeplant het. Die tak het ook gryswater aangery om die bome nat te lei gedurende ’n droogte in daardie tyd toe talle bome in die parkie gevrek het. Vandag is die parkie egter ’n lushof, en word dit gereeld deur die gemeenskap besoek om in die skadu’s te kuier en op die gras te speel.

Die parkie beslaan sowat 2 600 m² en die grasperk word gereeld deur die tak gesny.

Die Oudtshoorn-tak onderhou ook die Middelstraat-parkie en het ook al verskeie ander suksesvolle projekte in die gemeenskap aangepak. Raak vandag nog betrokke, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel Erasmus by 081 216 9602

Soortgelyke plasings