|

Leandra-plaasaanval: AfriForum verwelkom swaar vonnisse vir drie aanvallers

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (English)

AfriForum verwelkom die swaar vonnisse wat vandag in die Evander-landdroshof opgelê is aan drie plaasaanvallers wat ’n 60-jarige vrou en haar huishulp in 2022 op ’n plaas op Rolspruit, oos van Leandra in Mpumalanga, aangeval en beroof het. Die aanvallers is elk lewenslange tronkstraf en ’n bykomende 71 jaar tronkstraf opgelê vir dié aanval. AfriForum beskryf die vonnisoplegging as ’n kritieke bevestiging daarvan dat aanvalle op die land se landbou- en landelike gemeenskap nie geduld sal word nie.

Thubelihle Ndwandwe, Siyabonga Ndwandwe en Muzikayfani Ndwandwe is op 20 Junie vanjaar skuldig bevind aan 17 aanklagtes teen hulle wat verband hou met dié brutale aanval, insluitend roof en aanranding. Die aanvallers, wat onderskeidelik 29, 29 en 43 jaar oud was ten tyde van die aanval, het vroegoggend op 7 September 2022 op die plaas toegeslaan en voorgegee dat hulle veekopers is. Hulle het egter die 60-jarige slagoffer oorval, aangerand en verskeie kere gesteek. Die boervrou en huishulp is daarna aangehou terwyl die aanvallers verskeie persoonlike items en kontant gebuit het. Danksy die flinke optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en plaaslike boere is die drie aanvallers later dieselfde dag nog aangekeer.

AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het tydens vandag se vonnisoplegging ter strafverswaring getuig en gewys op die geweldige aard en rampspoedige gevolge van plaasaanvalle.   

“Hierdie aanvalle word gekenmerk deur uiterste wreedheid en vrees. Slagoffers word getraumatiseerd gelaat, gemeenskappe word gedestabiliseer en vertroue in die gereg word geknak,” verduidelik Broodryk. “Dit is van kritieke belang dat die hof vonnisse oplê wat die erns van hierdie misdaad weerspieël – en vandag is dit gedoen.”

In sy getuienis het Broodryk onder meer ook beklemtoon wat die langtermyn-impak van plaasaanvalle op slagoffers en die landbousektor is. AfriForum se eie navorsing, wat uit die organisasie se gemeenskapsveiligheidsdatabasis onderneem is, wys dat plaasaanvalle ernstige emosionele, ekonomiese en maatskaplike gevolge het, en onder meer kan lei tot belemmerde voedselproduksie, trauma vir inwoners in landelike gebiede en ’n hoë voorkoms van vrees.

“Boere leef en werk in afgeleë gebiede en dit laat hulle veral kwesbaar. Wanneer hulle geraak word deur plaasaanvalle, hou dit ook ’n direkte gevaar in vir die land se voedselsekerheid en die lewensonderhoud van die landelike gemeenskap,” sê Broodryk.  

AfriForum benadruk ook weer dat geregtigheid in dié gevalle op ’n duidelike wyse moet geskied om verdere aanvalle te ontmoedig, veral omdat die koers van arrestasies en skuldigbevindings in landelike misdaad dikwels baie laag is. AfriForum se navorsing toon dat arrestasies gemaak is in slegs sowat 20% van plaasmoorde wat vanaf 2019 tot 2022 in Mpumalanga gepleeg is, terwyl geen skuldigbevindings in dié tyd aangeteken is nie.

“Die regstelsel moet ’n duidelike boodskap stuur dat die teiken van boere ernstige gevolge inhou. Vandag se vonnisoplegging stel daardie presedent,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings