Landwye AfriForum-massapatrollie lei tot ’n rits arrestasies
Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)
’n Massapatrollie waaraan AfriForum se 177 buurt- en plaaswagte landwyd die afgelope naweek deelgeneem het, het tot ’n rits arrestasies, waaronder dié van ’n moordverdagte, gelei. Dié arrestasies vir onder meer die besit van dwelms, onwettige immigrasie, aanranding, besit van gesteelde goedere en beskadiging van eiendom is in samewerking met wetstoepassingsagentskappe uitgevoer. Die massapatrollie is aaneenlopend vanaf Vrydag 11 April om 16:00 tot Saterdag 12 April teen omstreeks 05:00 uitgevoer.
Benewens patrollering het buurtwaglede ook bystand verleen by verskeie ongelukstonele sowel as operasies van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) waartydens beslag gelê is op talle gevaarlike wapens en onwettige items.
AfriForum se plaas- en buurtwagte het tydens die naweek se massapatrollie by twee noemenswaardige insidente in die Wes-Kaap bystand verleen. In die eerste voorval het AfriForum se plaaswag op Uniondale die SAPD bygestaan met die opsporing van ’n moordverdagte wat uiteindelik tot die suksesvolle arrestasie van die verdagte gelei het. Dit het gevolg nadat die verdagte se voertuig deur privaat sekuriteitskameras opgemerk is en die SAPD op die verdagte se spoor geplaas kon word. In nóg ’n voorval, het AfriForum se plaaslike buurtwag in die Overstrand Saterdagoggend op ’n gewapende roof gereageer. Alle gesteelde goedere is teruggevind en die verdagtes is aan die owerhede oorhandig.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is AfriForum se massapatrollies nie net bedoel om AfriForum se teenwoordigheid as veiligheidsrolspeler in plaaslike gemeenskappe duidelik te maak en as afskrikmiddel vir potensiële misdadigers te dien nie. Dié landwye operasies wat drie per jaar gehou word, dien ook as inoefeningsoperasies om AfriForum se nasionale netwerk van buurt- en plaaswagte se mobilisasie en kommunikasie as deel van die organisasie se nasionale radionetwerk op die proef te stel. Dié gesofistikeerde netwerk se werksaamhede word boonop tydens massapatrollies deur die AfriForum-beheerkamers wat op verskeie plekke in die land geleë is, beheer en gekontroleer. Inoefening rat die organisasie se veiligheidstrukture dus op hierdie manier landwyd om wanneer nodig blitsig en doeltreffend te reageer in die belang van gemeenskappe se veiligheid.
“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa-inisiatief wat nou vir die eerste keer hierdie jaar aangepak is, wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk,” sê Broodryk. “AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap sélf.”
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwagstruktuur aan te sluit.
Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.