|

Kul jou hier, kul jou daar, en siedaar – ons stede verval nie meer nie

Dalena Beyers, raadgewer oor plaaslikeregeringsake by AfriForum

Dis geen nuus dat ons stede besig is om te verval nie. Almal wat in Suid-Afrika woon weet dit. Wanbestuur en korrupsie is duidelik te sien in swak en foutiewe infrastruktuur. Alles van verkeersligte wat nie werk nie tot die menigte slaggate is tekenend daarvan.

Die burgemeesters van die Johannesburg- en Tshwane-metros sien dit egter nie so nie. Volgens hulle is daar geen stedelike verval nie, net gebiede waar sogenaamde “stedelike herstel” besig is om te gebeur, aldus News24. Dit is nou wat die skrywer George Orwell sou noem “newspeak”, oftewel dubbelsinnige eufemistiese taal vir politieke propaganda. Die realiteit is dat waar daar stedelike herstel in Johannesburg en Pretoria gebeur, dit meestal vanuit die gemeenskap self gedryf word en dit is ook nie noodwendig in die middestad self nie.

Hierdie ontkenning van die probleem sluit aan by die aankondiging wat vandeesweek gemaak is oor die komende Urban20 Sherpa-beraad. Dié beraad word aangebied ter voorbereiding van die Burgemeestersberaad wat in September sal plaasvind en waartydens burgemeesters van al G20-lande byeenkom om kwessies te bespreek wat uiteindelik na die G20 aangestuur word.

Johannesburg kan skynbaar, volgens die stad se burgemeester, Dada Morero, daardeur toon dat hulle nie net globale beleide toepas in die bestuur van die stad nie, maar selfs globale beleide beïnvloed. Miskien moet die VSA maar tog kom luister hoe dit gedoen word in hierdie wêreldklas-Afrikastede. Die Johannesburg-metro se leuse is per slot van sake “A world class African city”, terwyl die Tshwane-metro s’n, “Ignite excellence”, ewe idealisties is.

Volgens beide dié metro’s se burgemeesters is hulle besig om die stryd teen verval te wen, al kan dit nog nie orals gesien word nie. Dié uitlatings kom ten spyte van die feit dat Tesourie die Johannesburg-metro se finansies ’n gekwalifiseerde oudit gegee het. Daar is duidelik wesenlike probleme in die metro se geldsake. Sekere bedrae en die rekenkundige bewyse is nie volledig nie, en as kersie op die koek het die metro steeds nie ’n munisipale bestuurder nie – hoewel ’n aanstelling hopelik in die volgende twee maande gedoen sal word.

Die tenders wat munisipale amptenare aan hul eie familie toegeken het, beloop na berig word amper R1 miljard, maar is egter volgens die metro geen rede tot kommer nie. Die metro het besluit om dit nie te ondersoek nie en dus ook niemand hiervoor te vervolg nie.

Intussen word daar gehoop op uitkoms wat dalk sal kom in die vorm van ’n nuwe burgemeester vir Johannesburg. Dié pos moet volgens die DA oorgeneem word deur Helen Zille, die huidige voorsitter van die party se federale raad en oudburgemeester van Kaapstad. Daar was hierdie week in die media sprake dat Zille haar naam in die hoed gaan gooi as burgemeesterskandidaat vir die volgende verkiesing. Tyd sal moet leer.

In Pretoria het dié metro ook hul eie probleme. Nie net moet die metroraad se speaker binnekort ’n klag van wantroue teen hom trotseer nie, maar AfriForum maak ook gereed om die metro in die hof te pak oor die instelling van ’n stadsreinigingsheffing vir die metro se reeds oorbelaste inwoners. Soortgelyke heffings het ook as deel van Stad Kaapstad se konsepbegroting vanjaar kop uitgesteek, en afhangende van die metro se finale besluit hieroor gaan daar waarskynlik ook hier regsoptrede nodig wees.

Dit lyk of hierdie week gekenmerk is deur politici se slim woordspeletjies om die werklike probleme as optimistiese uitdagings te verdoesel. Die publiek is egter veel slimmer en laat hulle nie sommer ’n rat voor die oë draai nie – al klink die beloftes en paaiwoorde ook hoe mooi.

Soortgelyke plasings