|

Inwoners se skuld? Nee! Waar is 35% van die water, Tshwane-metro?

Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum

Terwyl Pretoria se inwoners met wateronderbrekings en lae waterdruk worstel, bly die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se boodskap dieselfde: Inwoners se waterverbruik is buitengewoon hoog en hulle moet dringend minder water gebruik.

Waterbesparing is elkeen se verantwoordelikheid. Maar dié boodskap vertel nie die volle verhaal nie. Dit verskuif die aandag van die metro se eie verantwoordelikheid om waterverliese te beperk na inwoners wat reeds met droë krane moet saamleef.

Wanneer die gebruik van water in die metro van naderby ondersoek word, kom verwarring in by die woord “gebruik”. Die Tshwane-metro gebruik dié konsep wanneer hy verwys na die totale volume water wat sy verspreidingsnetwerk binnekom. Dit is egter nie dieselfde as die hoeveelheid water wat inwoners werklik gebruik nie. Water wat uit ’n gebarste munisipale pyp stroom, is immers nie huishoudelike waterverbruik nie.

In die waterwêreld word daar na die sogenaamde waterbalans verwys om te bepaal hoeveel water beskikbaar is, hoeveel gebruik word en hoeveel deur onder meer lekkasies en ander verliese verlore gaan. Kortom, ’n waterbalans bepaal of ’n gebied se watervoorraad volhoubaar is.

In die geval van die Tshwane-metro word nagenoeg 54% van dié metro se watertoevoer geklassifiseer as water wat inkomste inbring, oftewel water wat aan verbruikers verkoop word. Die ander 46% is nie-inkomstewater, oftewel water wat die stelsel binnekom sonder dat dit inkomste genereer. Die persentasie nie-inkomstewater in die Tshwane-metro is tans byna dubbel die nasionale teiken van minder as 25%.

Die onderskeid tussen dié twee tipes water is nie bloot tegnies nie. Of die metro water aankoop of self suiwer, dit kos steeds geld om dit te verkry, te pomp en te versprei. Pype, reservoirs en pompstasies moet ook onderhou, opgegradeer en uitgebrei word. ’n Hoë vlak nie-inkomstewater beteken dus dat die metro uitgawes aangaan sonder die ooreenstemmende verkoopsinkomste – ’n tendens wat die finansiële volhoubaarheid van die waterdiens ondermyn.

Hoewel die metro se hoë vlak van nie-inkomstewater krisisafmetings aanneem, is dit tog belangrik om te onthou dat nie alle nie-inkomstewater neerkom op watervermorsing nie. Sowat 2% van die totale toevoer is ongefaktureerde gemagtigde gebruik, en is water wat onder meer gebruik word vir brandbestryding, munisipale gebruik en die uitspoel van toevoerpype. Dit is geldige gebruike, maar verklaar slegs ’n klein deel van die verskil tussen die water wat inkomste genereer en nie-inkomste water.

Die metro hou aan om water in ’n emmer vol gate te gooi en wanneer die emmer vinniger leeg loop as wat dit weer vol gemaak kan word, blameer hy die persoon wat met die leë emmer staan.

Daarbenewens gaan sowat 44% van die totale watertoevoer die Tshwane-metro verlore. Dié verlies kan in twee kategorieë verdeel word, naamlik kommersiële en fisiese verliese:

  • Sowat 9% wat waterverliese in die metro kan geklassifiseer word as kommersiële verliese – oftewel verliese wat kom weens onakkurate meters wat minder verbruik aanteken as wat werklik plaasvind, onwettige aansluitings en waterdiefstal. Hierdie water word wel gebruik, maar nie behoorlik verantwoord en gefaktureer nie.
  • Nagenoeg 35%, oftewel meer as ’n derde van water in die metro se netwerk, is fisiese waterverliese. Dié syfer aansienlik hoër as die internasionale standaard van minder as 15%. Fisiese waterverliese verwys na water verlore gaan uit lekkende en gebarste pype, reservoirs wat oorloop en lekkende munisipale aansluitings buite eiendomsgrense.

Die wete dat meer as 35% van alle water in die metro se netwerk vermors word, maak dit duidelik dat inwoners – ondanks hul plig om water verantwoordelik te gebruik – nie kan pa staan vir dié verliese nie. Dit is noodsaaklik dat die metro die meet en beheer van watergebruik drasties verbeter en onwettige aansluitings takel. Om wetsgehoorsame verbruikers te vermaan, los nie hierdie uitdagings op nie.

Ja, inwoners kan korter stort of minder tuin natmaak, maar die nakoming van dié “klein” verantwoordelikhede herstel nie ’n lekkende munisipale hoofpyp herstel nie, dit keer nie die oorloop van ’n reservoir nie, en neem nie die metro se instandhoudingspligte oor nie. Verantwoordelike gebruik is noodsaaklik, maar dit kan nie doeltreffende netwerkbestuur vervang nie.

Die metro hou aan om water in ’n emmer vol gate te gooi en wanneer die emmer vinniger leeg loop as wat dit weer vol gemaak kan word, blameer hy die persoon wat met die leë emmer staan.

Die tyd is ryp vir eerlike kommunikasie wat moet onderskei tussen water wat voorsien, gebruik en verloor word – anders word ’n munisipale bestuursprobleem verkeerdelik as ’n verbruikersprobleem opgedis.

AfriForum eis dat die Tshwane-metro verantwoordelikheid neem en die herstel van waterlekkasies prioritiseer. Besoek waterkrisis.co.za om waterlekkasies in die metro se netwerk aan te meld en om druk op die metro vir die herstel daarvan te plaas.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik