|

Hofoorwinning vir AfriForum ’n wen vir onderwysinstellings geteiken deur Johannesburg-metro

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)

Soundbite: Alana Bailey (Engels)

Die Hooggeregshof in Johannesburg het gister (8 April) die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se 2023/2024-verordening oor eiendomsbelasting, asook die eiendomsbelastingsbeleid met betrekking tot die kategorisering van onderriginstellings, ongrondwetlik verklaar en dit ter syde gestel. Die hof het ook ’n kostebevel aan die deelnemende applikante, wat AfriForum insluit, toegestaan.

Hierdie uitspraak volg nadat die metroraad weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het en ’n eiendomsbelastingverordening en -beleid aanvaar het wat privaat skole gekategoriseer het as openbare ondernemings. Dit het tot ’n drastiese styging in eiendomsbelasting vir privaat skole en ander onderriginstellings gelei.

Die hof het Dinsdag bevind dat die metro se openbare deelnameproses met die aanvaarding van die 2023/2024-belastingbeleid onvoldoende was en nie aan grondwetlike en statutêre vereistes voldoen het nie. “Dit is tyd dat munisipale amptenare besef dat hulle nie net inwoners kan stoomroller en besluite afdwing sonder om ’n voldoende deelnameproses te hou nie. Inwoners is moeg om meer en meer geld op te dok sonder om ’n sê te hê oor hoe dit aangewend word,” meen Morne Mostert, hoof van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die hof het verder bevind dat die metro nie sinvol met belanghebbendes, insluitend onafhanklike skole gekonsulteer het nie; die beste belange van skoliere geïgnoreer het en sodoende artikels 28(2) en 29(1)(a) van die Grondwet oortree het.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die groeiende getal kinders wat toegang tot skole in Gauteng benodig, plus die swak gehalte onderrig wat sommige openbare skole aanbied, tot gevolg dat meer privaat onderriginstellings ontstaan. “Skole sukkel om kop bo water te hou met groot getalle leerders en laer inkomstes. Dan veroorsaak munisipaliteite dat hierdie sektor verder lamgelê word met buitensporige en belaglike eiendomsbelasting. Alle sfere van die regering is veronderstel om hierdie instellings by te staan om te kan groei, nie om dit te teiken en te gebruik om meer inkomste te genereer nie.”

Die metro is nou deur die hof opdrag gegee om eers te voldoen aan die vereistes vir openbare deelname, kragtens toepaslike wetgewing, voordat ’n nuwe tariefbeleid en -verordening ter tafel gelê, aanvaar en aangekondig word. Verder moet die metro die oorspronklike tarief toepas wat vir eiendomme in die “onderwys”-kategorie geld, soos dit uiteengesit is in die 2021/2022 munisipale belastingbeleid en -verordening. Hierdie tariewe kan egter vir inflasie aangepas word, naamlik met 4,85% in 2022/2023 en 2% in 2023/2024.

Die hof het verder die metro opdrag gegee om behoorlik te konsulteer met alle belanghebbendes, applikante en skole wat geraak word wanneer die nuwe verordening en beleid opgestel word.

“AfriForum is verheug oor hierdie uitspraak en dat ons as burgerregteorganisasie, tesame met ander belanghebbendes, die nodige druk kon toepas om te verseker dat leerders se belange beskerm word,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings