Geregtigheid bly buite bereik van talle slagoffers
Deur Chanté Kelder
Suid-Afrika se propvol tronke moet glad nie die illusie skep dat ons ’n strafregstelsel het wat werk en dat geregtigheid hier seëvier nie. Inteendeel, sit ons met 61 000 verhoorafwagtendes, talle misdadigers op vrye voet en ’n Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wat skynbaar nie wil vervolg nie.

Vandeesweek is Hendrik Venter, ’n 81-jarige boer wat in September verlede jaar by sy plaashek vermoor is, se saak van die rol verwyder weens sogenaamde “stagnerende ondersoeke”. Die verdagtes is nou op vrye voet hangende verdere ondersoek, maar of daar verdere ondersoeke gaan plaasvind bly ’n ope vraag. AfriForum se woordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het dié verwikkelinge beskryf as ’n administratiewe mislukking en ’n algehele onreg.
In die tragiese saak van klein Nada-Jane Challita, wie se lyk in Januarie 2023 drywend in ’n bad vol water gevind is, moes die saak talle kere uitgestel word aangesien die beskuldigde weens ’n abses in haar mond nie kon getuig nie. Ander sake word uitgestel omdat ’n regsverteenwoordiger datums verkeerd neergepen het of selfs ná maande met ’n dossier beweer dat daar nie genoegsame tyd was om die dossier behoorlik te bestudeer nie.

Ons sien dat kinderverkragters wie se borgtog herroep is, steeds in hul gemeenskap kan rondbeweeg omdat hul regsverteenwoordiger ’n ooreenkoms aangegaan het. Dít was die geval met die Kemp-broers, Morné en Marinus, wat ongeag die feit dat hul borgtog deur die Pretoriase hooggeregshof herroep is, steeds op vrye voet was aangesien ’n datum vir hul borgaansoek nie vasgemaak kon word nie. Die broers is in 2022 skuldig bevind aan die verkragting van ’n 14-jarige meisie in 2018.
Daar is verskeie voorbeelde van sake waar daar eers vordering gemaak is nadat ’n ander party ingegryp het en antwoorde geëis het oor hoe die ondersoek vorder en wanneer iemand tot verantwoording geroep gaan word.
Dit was vandeesweek die geval in nog ’n saak waar AfriForum se privaatvervolgingseenheid die familie van ’n slagoffer gehelp het. Violet Matsho en haar vriend Senzo Sithole is in die vroeë oggendure in Augustus 2022 dood in ’n kop-aan-kop-botsing en, hoewel daar ’n verdagte was, is die saak nie verder ondersoek nie. Eers nadat Matsho se suster, Julia, die privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader het, was daar beweging in dié saak. Die verdagte het uiteindelik hierdie week, byna drie jaar ná die noodlottige ongeluk, in die hof verskyn.

Dit behoort ook kommerwekkend te wees dat talle van die 61 000 verhoorafwagtendes in Suid-Afrika al vir meer as tien jaar wag vir hulle dag in die hof. Dit beteken dat talle slagoffers en hul families ook al vir meer as tien jaar wag vir geregtigheid om te geskied. Verandering is duidelik dringend nodig ten einde geregtigheid in Suid-Afrika te laat seëvier.