Gauteng-vullisterreine ’n tikkende tydbom: Metro’s het net meer as vier jaar oor voor ‘Dag Zero’
Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)
AfriForum waarsku dat “Dag Zero” vir vullisterreine in Gauteng se drie metro’s oor net meer as vier jaar bereik sal word. Dít is hoeveel tyd die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s oor het voordat die vullisterreine, waar die vullis van hul nagenoeg 13 miljoen inwoners, tans gestort word hul maksimum kapasiteit bereik. Die burgerregteorganisasie waarsku in die lig van dié skokbevinding dat indien daar nie onmiddellike en besliste ingryping is nie, ’n volskaalse omgewings- en openbare gesondheidsramp op die provinsie wag.
Gemeet aan die jongste beskikbare data wat in Maart en April vanjaar vrygestel is oor die 13 aktiewe munisipale vullisterreine in die drie metro’s, sal die vullisterreine in die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s hul kapasiteit onderskeidelik binne die volgende nagenoeg 16, 78 en 60 maande bereik.
Johannesburg-metro
Volgens die “State of waste management”-verslag van die Johannesburg-metro wat in Maart vanjaar uitgereik is, sal die metro se vier vullisterreine oor net meer as ’n jaar vol wees. Die metro voer self aan dat die Robinson Deep-terrein in November 2026, die Goudkoppies-terrein in Maart 2028 en die Ennerdale-terrein in Julie 2026 hul kapasiteit gaan bereik, terwyl die Marie-Louise-terrein reeds in April vanjaar op volle kapasiteit sou wees. Dit laat die metro met ’n gemiddeld van net meer as ’n jaar voordat spasie opraak.
Tshwane-metro
In die Tshwane-metro is die verwagting, volgens die metro se voorlegging aan die Portefeuljekomitee vir Menslike Nedersettings in April 2025, dat die lugspasie by die metro se vier vullisterreine (Ga-Rankuwa, Soshanguve, Heatherley en Bronkhorstspruit) in ’n nagmerrie-scenario onderskeidelik binne die volgende 3, 7, 7 en 9 jaar uitgeput sal wees. Dit beteken dat dié metro se terreine oor sowat 6 en ’n half jaar uit lugspasie sal hardloop.
Ekurhuleni-metro
Die Ekurhuleni-metro se “Waste management”-voorlegging van Maart hierdie jaar, toon dat die vyf munisipale vullisterreine hier ook na verwagting oor die volgende vyf jaar hul volle kapasiteit sal bereik. Luidens die metro se eie data het die Simmer & Jack- en Weltevreden-terreine albei minder as ’n jaar se kapasiteit oor, terwyl die Rietfontein-terrein nog nagenoeg drie jaar lank operasioneel sal kan wees. Daarteenoor word verwag dat die Rooikraal- en Platkop-terreine onderskeidelik nog nagenoeg 8 en 12 jaar se drakrag het.
AfriForum dring in die lig van dié naderende krisis aan dat drastiese stappe gedoen word om oplossings te bied en dat die vestiging van vennootskappe tussen die privaat en openbare sektor vir die oprigting van herwinningsentrums geprioritiseer moet word. Voorts eis die burgerregteorganisasie die dringende implementering van die sogenaamde zero waste to landfill-strategie, waardeur die hoeveelheid vullis wat by vullisterreine gestort word tot die minimum beperk word.
Volgens Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum, wys die syfers rakende die kritieke tekort aan lugspasie by vullisterreine op ernstige sistemiese bestuursmislukkings in die provinsie. Hy voer aan dat kwessies soos die staking van goedkeurings vir die ontwikkeling van nuwe vullisterreine weens vertragings met die toekenning van die nodige lisensies sowel as die metro’s se versuim om te belê in herwinning en alternatiewe tegnologie vir die verwerking van vullis van die grootste bydraende faktore vir dié vulliskwessie is. Intussen dra ander sake – soos onvoldoende monitering van terreine en swak inkomstebestuur weens foutiewe weegbrûe; onwettige storting en gebrekkige toepassing van munisipale bywette om dit te beperk; en ernstige infrastruktuurprobleme – ook by tot die uitdagings wat deur vullisterreine in die gesig gestaar word.
Gauteng staan aan die kern van Suid-Afrika se vulliskrisis en daar is by die betrokke metro’s en die provinsie bitter min aanspreeklikheid of dringendheid om die probleme te takel, verduidelik De Klerk.
“Ons sit nie met ’n vullisterreinprobleem nie. Ons sit met ’n bestuursprobleem,” meen De Klerk. “Munisipaliteite het kragtens die Grondwet en die Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalwet ’n wetlike verantwoordelikheid om die omgewing en openbare gesondheid te beskerm. Hul versuim om dit te doen kom nie net neer op ’n pligsversuim nie, dit is ’n direkte bedreiging vir die welstand van miljoene mense.”