|

Eerste student voltooi opleiding danksy AfriForum-studietrust

Die eerste student wat deur middel van die AfriForum-veiligheidsopleidingstudietrust opleiding ontvang het, het pas sy afstandvlieënierlisensie behaal.

Bertus Venter (33) het die afgelope ses maande opleiding by FSAT (Edms.) Bpk., ’n inisiatief van Forum Sekuriteit, voltooi en is nou ’n volwaardig opgeleide hommeltuigvlieënier.

Venter, ’n direkteur en medestigter van die niewinsgewende organisasie Ranger Guardians, is tans aktief op soek na werksgeleenthede en sien daarna uit om as ’n hommeltuigvlieënier te werk.

“Met my agtergrond in wildbewaring was ek nog altyd geïnteresseerd in die gebruik van tegnologie om die natuur beter te bestudeer en te beskerm. Ek glo die verantwoordelike gebruik van die nuutste tegnologie, soos hommeltuie, kan help om ’n dieper respek vir die omgewing by mense te vestig en dit kan ook help om stropery te bekamp.”

Volgens hom was dit opwindend om ’n nuwe vaardigheid aan te leer en wil hy homself as instrukteur kwalifiseer.

“Die dag toe my studieaansoek aanvaar is, het ek nuwe hoop vir die toekoms gekry. Die kursus het vir my ’n inleiding gegee tot die lugvaartindustrie – iets wat ek nooit gedink het binne my bereik sou wees nie.”

Volgens hom het die instrukteur met elke stap seker gemaak dat hy die nodige kennis het. “Ek kon daarom met gemak deur die kursus werk soos die een vak die fondasie lê vir die volgende een.”

Venter het aan Forum Nuus gesê dat die finale week se praktiese opleiding veral opwindend was en dat hy dit baie geniet het om sy nuwe kennis ten toon te stel. “Ek is baie trots op die uitslae wat ek in die eksamen en laaste toetse behaal het en is dankbaar vir die goeie leiding wat ek van die instrukteur ontvang het om te kan kwalifiseer.

“Sonder die AfriForum-veiligheidsopleidingstudietrust sou hierdie opleiding buite my bereik gewees het. Met geen vaste inkomste nie is dit veral moeilik om op die hoogte te bly van nuwe, gesogte vaardighede. Die studietrust het my die geleentheid gegee om voor te bly in ’n wêreld wat vinnig verander,” het Venter gesê.

Die AfriForum-veiligheidsopleidingstudietrust is verlede jaar op die been gebring en word deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer. Ses studente baat tans by dié trust.

Volgens Gerhard Faber, operasionele hoof van FSAT, glo hulle dat hierdie net die begin van Venter se suksesvolle loopbaan gaan wees.

FSAT bied al die afgelope twee en ’n half jaar hommeltuig-verwante opleiding aan en 77 mense het in 2024 opleiding by FSAT ondergaan. Vir meer inligting oor die opleiding wat FSAT aanbied, stuur ’n e-pos aan Faber by gerhard@aviation-training.co.za of Marius Muller by marius@aviation-training.co.za.

Soortgelyke plasings