|

Die konsentrasie van welvaart in min kaderhande is inderdaad die probleem

Deur Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum

Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudinge

Tydens ’n vraag-en-antwoordsessie wat Dinsdag in die parlement aangebied is, het president Cyril Ramaphosa die volgende antwoord gegee na aanleiding van ’n vraag van dr. Corné Mulder van die VF+ oor die moontlikheid van ’n nuwe ekonomiese beleid: “Een van die dinge wat Suid-Afrika se ekonomie van groei weerhou is die vlak van konsentrasie. Konsentrasie, want hulle sê die eienaarskap van die ekonomie is in veels te min hande, eienaarskap het nie versprei nie. […] In ons land was dit net die paar bevoorregte, en mag ek voortgaan om te sê, wit mense, wat steeds die produksiemiddele besit, wat steeds die produktiewe ekonomie van ons land te besit.”

Ramaphosa het hier ’n baie belangrike bekentenis gemaak. Dit is dat ’n groot deel van die burgers van die land nie op ’n noemenswaardige manier uit die ekonomie voordeel trek nie omdat welvaart in te min hande gekonsentreer is.

Dit is ongelukkig die enigste waar opmerking wat Ramaphosa gemaak het – want vandaar het hy voortgegaan om te sê dat die sogenaamde “bevoorregte wit mense” steeds die grootste gedeelte van die ekonomie besit en beheer, en daarom moet skadelike beleide soos swart ekonomiese bemagtiging voortgaan. Ramaphosa het verder gesê dat Afrikaners deur die Engelse terug gehou is, en dat hulle “in staat gestel is” en “meer en meer bemagtig geword het” deur beleide en wette en “gunstige ooreenkomste” wat aan hulle gegee is. “Waarom kan dieselfde nie vir swart mense gedoen word nie?” het Ramaphosa gevra.

Alle gewone mense weet dat dit met jou beter gaan as dit met jou buurman ook goed gaan. Geen billike mens is gekant teen die vooruitgang van medeburgers nie.

Dit is egter juis waarom soveel organisasies en burgers hulle uitspreek teen swart ekonomiese bemagtiging en ander diskriminerende beleide – want dit lei nié tot ekonomiese groei en gepaardgaande welvaartskepping wat tot die vooruitgang van gewone burgers kan bydra nie. Dit konsentreer, presies soos Ramaphosa gesê het, die welvaart in ’n klein kring. Maar in teenstelling met wat Ramaphosa gesê het, is dit nie ’n klein kring van sogenaamde wit mense nie, maar swart mense wat hulle binne ’n spesifieke politieke dampkring bevind. Dit is presies waarom Ramaphosa self ’n miljardêr is – maar daaroor is hy doodstil.

Ramaphosa en sy party se onderliggende ideologie is duidelik uit die woorde wat gebruik word. “Beheer oor produksiemiddele” kom uit die kommunistiese woordeboek van die Koue Oorlog, en hieruit kan Ramaphosa en die ANC se werklike strewe, en waar hulle vasgehaak het, verstaan word. Dit gaan nie oor die welvaart van gewone mense op voetsoolvlak nie – dit gaan oor die bereiking van ’n ideologiese oogmerk, teen enige prys. Die doelwit word deur Ramaphosa as “gelykheid” beskryf, maar die werklikheid van daardie soort gelykheid is reeds hier in Suid-Afrika duidelik, net so duidelik as wat dit in Sowjet-Rusland was. Dit eindig in die allervreeslikste ellende vir burgers en onbeskryflike weelde vir ’n baie klein groepie – superkapitalisme in der waarheid.

Afrikaners het voordeel getrek uit die beleide en wette van die vorige bedeling, maar ons is nie bloot “in staat gestel” en het nie net “bemagtig geword nie”. Afrikaners het ná die geweldige terugslae van die Tweede Vryheidsoorlog, die 1914-Rebellie en die Groot Depressie self verantwoordelikheid vir ons toekoms geneem. Daar is baie hard gedink en gewerk, en opgeoffer. Dink maar aan die Helpmekaar Beweging. Afrikaners het, ’n vyandige regering ten spyt, die hande aan hul eie arms gebruik om hul gemeenskap aan hul eie skoenveters op te trek. Daar het nie net voorregte en geleenthede van die staat af neergedaal nie. Belangriker nog is dat eiendomsreg nie aangetas is deur mense te dwing om ’n gedeelte van hul eiendom weg te gee om sake te kon doen nie.

Dieselfde is vandag weer waar. Afrikaners vaar vandag steeds, in vergelyking met ander kultuurgemeenskappe, goed omdat ons planne maak en hard werk. Ons vaar beter, nie as gevolg van die regering nie, maar ten spyte van die vyandige owerheid. Afrikanergesinne kyk nie net na hulself nie, maar ondersteun organisasies en gemeenskapsinisiatiewe, met tyd en geld, om ’n mooi toekoms vir hul kinders te verseker.

Dit is belangriker as ooit om druk op die ANC-geleide regering vol te hou om van vernietigende beleide soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie af te sien en weerstand téén dié beleide te bied. Dit is die enigste manier waarop ekonomiese groei ontsluit kan word tot voordeel van al die kultuurgemeenskappe in die land.

Soortgelyke plasings