|

Departement se blink planne en gonswoorde faal die omgewing – AfriForum

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)

Soundbite: Marais de Vaal (English)

Die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) se nuwe vyfjaar strategie om ’n reeks omgewingsprioriteite te pak, is weinig meer as ’n bemarkingstrategie om Suid-Afrika se beeld te poets voor die G20-beraad in November. AfriForum voer aan dat dit in werklikheid geen konkrete oplossings vir die land se groeiende omgewingskrisis bied nie.

Dié plan, wat onlangs aan die parlementêre komitee oor Landbou, Grondhervorming en Minerale Hulpbronne voorgelê is, sit ambisieuse prioriteite uiteen. Van die sogenaamde RESET-program om omgewingsregulering te stroomlyn, tot planne om ikoniese parke onder die KISS-inisiatief te verbeter en etiese en volhoubare bewaringstrategieë onder die FILLER-inisiatief te bevorder.

“Hierdie akronieme en internasionale gonswoorde mag dalk ooreenstem met die Afrika Unie (AU) se Agenda 2063 en die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, maar dit beklemtoon net hoe uit voeling die DFFE met die werklikheid is,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

“Gemeenskappe oor die land heen word voortdurend blootgestel aan die gevolge van besoedelde lug, waterstelsels wat ineenstort en ekosisteme wat deur onbeheerde mynbou afgetakel word. Hierdie mislukkings word vernuftig deur die nuwe strategie gesystap, terwyl die departement weinig politieke wil toon om die strukturele probleme wat die kern van ons mislukte omgewingsbestuur vorm, direk aan te pak.”

AfriForum voer aan dat die DFFE ’n gevaarlike presedent stel om magtigingsprosesse, onder die vaandel van doeltreffendheid, te stroomlyn ten koste van deeglike ondersoek. Verder het die departement geen duidelike strategie om wettige nakoming en afdwinging te rugsteun, die Groen Skerpioene se kapasiteit aan te vul of vooraanstaande besoedelaars, veral mislukte munisipaliteite en industriële reuse soos Eskom, aanspreeklik te hou nie.

Dit is ook duidelik dat die departement geen poging aanwend om die regulatoriese raamwerk te hervorm wat die departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE), die einste departement wat mynbou bevorder, toelaat om oor omgewingsmagtigings vir mynbouprojekte te besluit nie. Intussen gee die departement nie eens aandag aan die feit dat Suid-Afrika steeds sy eie luggehalte- en vullisverwyderingsteikens mis nie.

“AfriForum wil graag sien dat die departement sy rol as waghond en reguleerder ernstig opneem, maar hy kies eerder om die erns van die land se omgewingskrisisse af te water ter wille van politieke aanvaarbaarheid,” sê De Vaal.

Die DFFE se grondwetlike mandaat is om besoedeling en ekologiese agteruitgang te voorkom, bewaring te bevorder en ekologies volhoubare ontwikkeling te verseker. AfriForum sal voortgaan om alle beskikbare kanale te gebruik om amptenare wat hul pligte versaak verantwoordbaar te hou en te verseker dat grondwetlike omgewingsregte nie op leë beloftes neerkom nie. Burgers verdien ’n reguleerder wat bereid is om sy mandaat vreesloos te handhaaf en die land se natuurlike erfenis vir huidige en toekomstige geslagte te beskerm.

Soortgelyke plasings