Boerebande in verre lande 9 – Delvillebos: Herinnering aan ’n dodelike slag
Die Somme-offensief was een van die dodelikste militêre aksies in die geskiedenis van die mensdom. Dit was ’n stryd tydens die Eerste Wêreldoorlog waar soldate van die Britse en Franse magte van 1 Julie tot 18 November 1916 in Frankryk teenoor die Duitse magte te staan gekom het. Sowat driemiljoen soldate het daaraan deelgeneem, van wie meer as ’n miljoen gesneuwel het, of gewond is.
Die offensief het uit verskeie fases bestaan, waaronder gevegte by Delvillebos en Butte de Warlencourt, waar Suid-Afrikaanse soldate as deel van die Britse magte hulle staal gewys het.
Delvillebos was, soos die naam aandui, ’n lowerryke woud in Frankryk. Op 15 Julie 1916 het die Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade (SAI) opdrag gekry om die Duitse stellings in dié bos aan te val en te verower.
Oor die volgende vyf dae het vernietigende gevegte daar gevolg.
Die Duitse artillerie het genadeloos op die soldate van SAI en ’n Skotse afdeling gevuur. Die manne moes dae aaneen sonder kos en slaap klaarkom, hulle ammunisie het opgeraak en gewondes kon nie afgevoer word nie. Hulle gekerm en die aanhoudende artillerievuur het die lewe ondraaglik vir die soldate gemaak. In 7 ure op 18 Julie het die Duitse artillerie tot 400 bomme per minuut op hulle laat neerreën. Offisiere het berig dat soldate teen 20 Julie met hulle gewere in die hand onder hewige bombardement letterlik omgeval en aan die slaap geraak het van uitputting. Nogtans was die opdrag onwrikbaar dat die bos ten alle koste verower moes word. Waar 121 offisiere en 3 032 manskappe op 15 Julie met die slag begin het, het slegs 3 gewonde offisiere en 140 manskappe die slagveld verlaat. Sowat 578 gesneuweldes se lyke kon nooit gevind word nie en talle wat gevind is, kon nie geïdentifiseer word nie.
Tragies genoeg kon die terrein ook nooit ten volle verower word nie – die laaste Duitse troepe is eers in Augustus 1916 daaruit verdryf.
Van die eens pragtige woud het slegs een boom, ’n haagbeuk, staande gebly. Dit is vandag nog te sien en word met ’n gedenkteken aan mense wat die slagveld kom besoek, uitgewys.
Na afloop van die oorlog is die slagveld deur die Suid-Afrikaanse regering gekoop met die doel om ’n gedenkteken ter herinnering aan Suid-Afrikaanse soldate daar op te rig. Sir Percy FitzPatrick, onder meer bekend as skrywer van die boek Jock van die Bosveld, het namens die regering oor die aankoop van die grond onderhandel. Dit was steeds ’n toneel van verwoesting, met dooie boomstompe, grafte en bomkraters, maar die Suid-Afrikaanse Departement van Bosbou het twee rye akkerbome aangeplant om die woud te herstel. Die saad waaruit dié bome gekweek is, was afkomstig van ’n boom wat in 1688 deur ’n Franse Hugenoot, Jean Gardiol, in Suid-Afrika geplant is. ’n Gedenkteken wat deur sir Herbert Baker ontwerp is, is op die terrein opgerig. Replikas daarvan is ook in Pretoria by die Uniegebou en in die Kompanjiestuin in Kaapstad opgerig. Die bewoording daarop bring hulde aan alle Suid-Afrikaners wat in Europa, Asië, Afrika en ter see geveg en die hoogste offer gebring het. Dit is in 1926 ingewy met ’n seremonie wat onder andere deur FitzPatrick en generaal J.B.M. Hertzog bygewoon is.

Dit was egter nie die eerste gedenkteken wat daar vir die Suid-Afrikaners opgerig is nie. Op 17 Februarie 1918 (dus voordat die oorlog selfs finaal ten einde geloop het), is ’n gedenkdiens by Delvillebos gehou waartydens ’n houtkruis met die volgende inskripsie opgerig is:
In memory of the officers and men of the 1st South African Brigade who fell in action in July 1916 in the Battle of the Somme.
Soldate het ook kruise van houtstompe wat na die slag oorgebly het, gemaak, en dit is op verskeie plekke opgerig, onder meer by die Kasteel in Kaapstad, teenoor die stadsaal in Durban, by St John’s College en die Transvaal Scottish Regimental Head Quarters Museum in Johannesburg en in die Tuin van Herinnering in Pietermaritzburg. Laasgenoemde kruis is bekend vir die onverklaarbare fenomeen dat dit na meer as ’n eeu steeds elke Juliemaand gom afskei. Dit staan daarom as die “Huilende Houtkruis” bekend.
Terugskouend was daar geen strategiese voordeel wat uit die reuse verlies aan menselewens by Delvillebos geput is nie. Nog minder was die Eerste Wêreldoorlog (soos op monumente wat na afloop daarvan opgerig is, aangedui is) die oorlog wat alle oorloë beëindig het.
Vandag is die terrein in die noorde van Frankryk weer ’n lowergroen oase. Die haagbeuk bly staande, ondanks al die skrapnel in sy stam. Die gesneuweldes se name begin vergete raak. Dit is dan wat gedenktekens soos dié by Delvillebos ons moet herinner aan die ontberinge, moed en opoffering van hulle wat ons voorafgegaan het.