Boerebande in verre lande 8 – Generaal De Wet op die Nederlandse vlakte
Stil, broers,
daar gaan ’n man verby
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.
So begin Jan F.E. Celliers se gedig, Generaal De Wet. Die bewondering vir hierdie krygsman het nie net plaaslik gegeld nie. Ook in Nederland het hy bekendheid verwerf vir sy dapperheid en weerstand teen die Britse magte tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).
Christiaan Rudolf de Wet is op 7 Oktober 1854 op ’n plaas naby Smithfield gebore en in 1922 in dieselfde omgewing oorlede. Hy word beskryf as “die mees legendariese van alle Afrikaner militariste” wat die kuns van guerrilla-oorlogvoering bemeester het. Nog meer merkwaardig is dat hy dit instinktief gedoen het: hy het immers geen formele militêre opleiding gehad nie. Verskeie biografieë is al oor hom geskryf – insluitend deur sy tydgenoot, “Vader” John Daniel Kestell.


In vorige aflewerings van die reeks het ons al verwys na Nederlanders se simpatie met die Boere se stryd teen die Britte en hulle bewondering vir die Boererepublieke se presidente en generaals wat tot buurt- en straatnaamgewing gelei het. In die besonder is die dinamiese en welvarende vrou, Helene Emma Laura Juliane Kröller-Müller, en haar man Anton, deur die wel en weë van die Boere aangegryp, soos wat in die artikel oor die monument ter ere van pres. M.T. Steyn beskryf is.
Die egpaar het sakebelange in Suider-Afrika gehad en voor die oorlog het Anton van die leiers tydens besoeke aan die Boererepublieke ontmoet. Na die oorlog het die egpaar onder andere beide Steyn en De Wet as gaste op hulle landgoed ontvang. Hierdie landgoed digby Otterlo het tot 1909 hulle privaat eiendom gebly, waarna dit as park vir openbare gebruik ontwikkel is. Dit staan vandag as De Hoge Veluwe Nasionale Park bekend en word deur ’n privaat stigting bestuur.

In 1915 het Helene opdrag aan die Nederlandse beeldhouer, Joseph Mendes da Costa, gegee om ’n monument ter ere van De Wet vir oprigting op die landgoed te skep. Da Costa en sy het saam na ’n geskikte plek daarvoor gesoek en op ’n sandvlakte besluit. Skynbaar is dit gekies omdat die landskap aan die Vrystaat herinner het. Dit is in 1921 daar opgerig.
Die monument wat twaalf meter hoog is, bestaan uit ’n basis wat ’n bunker voorstel, met ’n suil daarop, gekroon deur die vollengte standbeeld van De Wet. Hy staan met sy linkerhand op sy bors en sy regterarm regaf teen sy sy. Hy staar die verte in in die rigting van Suid-Afrika. Agter hom is ’n leeu waaroor hy uittroon. In die bunkerbasis, is agt reliëfpanele wat elk twee Boere voorstel wat bewapend uitkyk en wag hou. Elkeen se gesig is uniek en daar word beweer dat van hulle presidente Steyn en Kruger, Da Costa self en selfs moontlik Helene voorstel. Skynbaar is die monument ook uniek omdat dit die eerste monument is wat in Nederland opgerig is wat iemand uitgebeeld het wat nog geleef het. Die bewering kon egter nie bevestig word nie.
Da Costa se voorstudies vir die monument wat uit sketse, geglasuurde maskers en gipsmodelle bestaan, word in die Ryksmuseum in Amsterdam en die Kröller-Müller Museum bewaar.
Op 12 Julie 2025 het lede van die Nederlandse Afrikanervereniging die park besoek en ook by die monumente aangedoen. In hulle nuusbrief van dieselfde maand, word berig: “Die Afrikaner-monumente het ons asem weggeslaan … Ons het raakgesien hoekom die 12 meter hoë Monument De Wet midde op die vlakte gebou is. Generaal De Wet was rég toe hy meer as 100 jaar gelede gesê het dat daardie plek ’n mens na Suid-Afrika laat verlang!”
Hierdie beeld in die vreemde roep woorde uit Celliers se gedig oor hierdie merkwaardige man in herinnering:
Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.