Boerebande in verre lande 7 – Herinneringe in Vlaandere aan die Eerste Wêreldoorlog
Die Eerste Wêreldoorlog, ook bekend as die Groot Oorlog (Great War) of ironies as die “oorlog om alle oorloë te beëindig” was ’n wêreldwye konflik wat van 28 Julie 1914 tot 11 November 1918 geduur het. Dit was ’n stryd tussen twee groot koalisies: die Geallieerdes, wat lande soos Groot-Brittanje, Frankryk, Rusland en later die Verenigde State ingesluit het, en die Sentrale Magte, hoofsaaklik bestaande uit Duitsland, Oostenryk-Hongarye, die Ottomaanse Ryk en Bulgarye.
Die bloedige stryd het die Unie van Suid-Afrika nie onaangeraak gelaat nie. Die regering van Louis Botha het in Augustus 1914 besluit dat die land aan Britse kant tot die oorlog teen Duitsland en sy bondgenote moes toetree. Dit was onaanvaarbaar vir Afrikaners dat hulle, soos president M.T. Steyn dit uitgedruk het, as “konsentrasiekampkinders” moes veg aan die kant van die Britte teen Duitsland, wat simpatiek teenoor hulle in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gestaan het.
Die gevolg was die Rebellie van 1914 tot 1915 wat plaaslik uitgebreek en Afrikaners verdeel het.
Tog was daar ook heelwat wat as lede van die Suid-Afrikaanse regeringstroepe of vrywilligers buite die landsgrense aan die oorlog gaan deelneem het en uitnemende diens gelewer het. Van hulle was jong manne wat dit as ’n geleentheid beskou het om ’n inkomste vir hulle families, wat na die Anglo-Boereoorlog verarm was, te verdien.
Uiteindelik het meer as 146 000 wit, 83 000 swart en 2 500 bruin en Indiër Suid-Afrikaners in Duits-Suidwes-Afrika, Oos-Afrika, die Midde-Ooste en Europa aan die oorlog deelgeneem. Meer as 7 000 van hulle het gesterf, sowat 12 000 is gewond en agt het die Victoria-kruis vir dapperheid ontvang.
Van al die gevegte waaraan deelgeneem is, is die bekendste waarskynlik die Slag van Delvillebos in Frankryk. Meer daaroor in ’n volgende aflewering.
Die Eerste Wêreldoorlog was helaas toe nie die oorlog wat alle oorloë beëindig het nie.
Van die mees gewelddadige veldslae het ook in Vlaandere (België) plaasgevind. Vandag is toere van dié slagvelde en militêre begraafplase ’n groot toerismebedryf. Militêre entoesiaste, maar ook nakomelinge van mense wat daar geveg en gesneuwel het, kom lê daar besoek af om eer aan die gesneuweldes te betoon.
Die grootste Statebondsbegraafplaas aan die Westelike Front in Vlaandere, is Tyne Cot – 11 953 gesneuweldes is daar begrawe, wat 90 Suid-Afrikaners insluit. Weens die aard van die stryd aldaar, is baie gesneuweldes se oorskot nooit gevind nie of is hulle begrawe, maar die plek waar hulle te ruste gelê is, het vergete geraak. Gevolglik is daar ook in Tyne Cot ’n gedenkteken vir hierdie vermistes opgerig wat die name van 34 991 van hulle vertoon.

Vroeg in die stryd het dit reeds duidelik geraak dat daar groot verliese sou wees en dat feitlik elke dorp en stad in Brittanje aan die gesneuweldes uit hulle omgewing sou wou hulde bring. Brittanje het dus doelbewus gedenktekens ontwerp wat redelik eenvormig sou lyk om te sorg dat hierdie monumente ’n herkenbare en ordelike geheel sou vorm. Dieselfde beplanning is vir die militêre begraafplase gedoen.
Die eerste begrafnisse het reeds in Oktober 1917 by Tyne Cot plaasgevind en grafte is met houtkruise gemerk. Die stryd het egter steeds in daardie omgewing gewoed en van die grafte is vernietig. Na die oorlog is die begraafplaas, soos baie ander, meer permanent ingerig, met eenvormige beton grafstene wat die houtkruise vervang het. Die uitleg en gedenktekens is ontwerp deur Sir Herbert Baker – die einste Baker wat vele bekende geboue, insluitend die Uniegebou in Suid-Afrika ontwerp het. Hy het ’n leidende rol in die ontwerp van alle Geallieerde gedenktekens en terreine van die Eerste Wêreldoorlog gespeel.
Die grafstene by Tyne Cot is eenvoudig.
Naasbestaandes van die gesneuweldes kon kies wat hulle op die stene wou insluit. Soms is daar net ’n naam, ’n kruis, of militêre embleem, ander kere ook ’n Bybelversie of persoonlike huldeblyk. Die Suid-Afrikaanse weermag se Infanterie-embleem verskyn bo-aan die Suid-Afrikaanse soldate se grafte. Dit is ’n springbokkop omring deur ’n krans met die leuse “Union is strength” en “Eendracht maakt macht” op. Wanneer oorskot nie geïdentifiseer kon word nie, maar die uniform wel, staan slegs “Known unto God” op die steen – een van die Suid-Afrikaanse grafte waarop ek afgekom het, is so bewoord en het my diep geraak.
Naby Tyne Cot is nog ’n terrein waar daar steeds daagliks aan die gesneuweldes eer betoon word. Dit is naamlik die Menenpoort Gedenkteken vir die Vermistes, ’n gedenkteken by die oostelike uitgang van die dorp Ieper op die plek wat die beginpunt was vir ’n hoofroetes wat Geallieerde soldate na die frontlinie gelei het. Hierdie monument is deur Sir Reginald Blomfield ontwerp en op 24 Julie 1927 onthul.
Op die reuse poort word die name van 54 896 vermistes aangetref, wat 564 Suid-Afrikaners insluit.
Elke aand om presies 20:00 word die poort vir verkeer gesluit en word ’n seremonie met ’n diens, gebede, kranslegging en militêre trompetspel ter nagedagtenis aan die gesneuweldes hier voltrek. Bywoning is gratis. Dit is ’n roerende, gewyde ervaring. Groepe, byvoorbeeld veterane-organisasies kan aansoek doen om verantwoordelikheid vir ’n spesifieke aand se seremonie te neem. Die poort word tans gerestoureer met die oog op die eeufeesherdenking van die onthulling daarvan in 2027.
Hierdie gedenktekens is beslis ’n besoek werd, ongeag of jou voorsate onder die pasifiste, rebelle of soldate was. Wanneer ’n mens tussen die duisende grafte rondstap en skielik die springbokkie op ’n grafsteen gewaar, of Afrikaanse vanne teen die wande van Menenpoort opmerk, kan jy nie help om bewoë te raak en te dink aan die ongelooflike vermorsing van menselewens wat hierdie en ander oorloë tot gevolg gehad het en steeds het nie. Die Eerste Wêreldoorlog was helaas toe nie die oorlog wat alle oorloë beëindig het nie.