| |

Boerebande in verre lande 10 – Monument vir ’n Boereoorlogheld in die hart van Frankryk

Sommige erfenisbakens ter herinnering aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) buite die landsgrense is relatief bekend. Ander verras ’n mens omdat jy vergeet dat hierdie oorlog vele buitelanders gefassineer het – tot so ’n mate dat sommige selfs gekies het om vrywillig aan Boerekant daaraan deel te neem.

Een van die bekendstes onder hulle was graaf George Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil. Hy is op 22 Maart 1847 in Montaigu, ’n dorpie digby die stad Nantes in Frankryk gebore. Sy militêre loopbaan het met studies aan die École Spéciale Militaire de Saint-Cyr begin waar hy die rang van tweede luitenant behaal het. Hierna is hy na Cochinchina (deel van die hedendaagse Viëtnam) waar hy in die marine infanterie gedien het en in 1870 tot luitenant bevorder is.

De Villebois-Mareuil het eers by die 7de Bataljon “des Chasseurs à Pied” aangesluit en toe bevel van die 6de Bataljon oorgeneem. Die Franse stad Blois is onder meer deur die Pruisiese magte beset. Danksy De Villebois-Mareuil se aanvoering is dit ontset. Hy het roem verwerf vir sy onverskrokke optrede tydens hierdie stryd: Hy is selfs ernstig gewond, maar het geweier om die slagveld te verlaat voordat die geveg nie verby was nie. Ná afloop daarvan is lank vir sy lewe gevrees en hy was uiteindelik nege maande lank in die hospitaal. Hy is vir sy dapperheid bekroon en tot die rang van kaptein bevorder.

Verdere militêre studies het gevolg en hy het diens gedoen in Algerië. Teen 1892 het hy die rang van kolonel beklee en was hy die jongste kolonel in die Franse leër.

Die dood van sy vrou in 1893 was vir hom ’n groot persoonlike terugslag. In dieselfde jaar het Frankryk Madagaskar ingeval en hy het versoek om daarheen verplaas te word. Toe sy versoek geweier word, het hy by die Vreemde Legioen aangesluit in die hoop dat dié stap aan hom die geleentheid sou bied om daarheen te gaan. Toe hierdie plan ook nie slaag nie, het hy in 1896 uit die Franse leër bedank. Daarna het hy militêre artikels geskryf. Hy was uiters krities teen die Franse regering van die dag se standpunte.

In ’n insident in Soedan in 1898 is die Franse op vernederende wyse deur die Britte gedwing om terug te val. Interessant genoeg het dit gebeur terwyl Herbert Kitchener die goewerneur van Soedan was, voordat hy in 1900 by die Britse troepe aan die suidpunt van Afrika aangesluit het om aan die Anglo-Boereoorlog deel te neem.

Die terugslag in Soedan het vir De Villebois-Mareuil wat so ’n sterk militêre en nasionale trots gekoester het, met skaamte vervul. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy dit beskou as ’n geleentheid vir hom om by te dra om sy land se reputasie in ere te herstel. Hy het dus na Lourenço Marques (deesdae Maputo) vertrek om deur Mosambiek te reis sodat hy as vrywilliger by die Boeremagte kon gaan aansluit om teen die Britte te veg. In Desember 1899 het generaal Piet Joubert aan hom die rang van majoor gegee. Tydens die Slag van Colenso (15 Desember 1899) het hy sy staal en uitsonderlike leierseienskappe getoon, waarna hy tot majoor-generaal bevorder is. Op 17 Maart 1900 is hy as aanvoerder van alle buitelandse vrywilligers aangestel.

Dit was ’n uitdaging om die verskillende nasionaliteite te laat saamwerk, maar dit kom voor asof hy wel sukses behaal het. Ten spyte van sy aandeel aan Frankryk se stryd teen die Pruise jare tevore, het hy groot respek vir die Duitsers onder sy bevel gehad. Hy het ook met lof oor die Boere geskryf, al het van hulle besluite hom soms gefrustreer. “Hierdie mense staan op voor die hele wêreld en trotseer die agteruitgang van ons té gevorderde beskawings,” het hy verklaar.

In die omgewing van Boshof het ’n verraaier die posisie van De Villebois-Mareuil en sy manne aan die Engelse bekendgemaak. ’n Stryd van dié handjievol vrywilligers teen ’n oormag van 750 Britse soldate onder aanvoering van lord Methuen het op 5 April 1900 gevolg. Die Britte het hulle drie ure lank onophoudelik met Maxim-masjiengeweervuur gepeper. De Villebois-Mareuil is gewond en het op ’n koppie op die plaas Kareepan gesneuwel. Teen daardie tyd was daar nog net sowat 30 van sy manne oor. Sy liggaam is na Boshof vervoer en hy is daar met volle militêre eerbewys deur die Britte te ruste gelê – Methuen het self vir die begrafnis betaal. In 1971 is sy oorskot in die helde-akker by Magersfontein herbegrawe.

Sy perd is deur lord Chesham gebuit en na Brittanje teruggeneem, waar dit in 1911 dood is. Die perd se hart en seremoniële versierings is op die dorpsmeent van die dorpie Latimer in Engeland begrawe, langs die monument ter ere van plaaslike inwoners wat in die Anglo-Boereoorlog gedien het.

Die adellike familie De Villebois was gereken in Frankryk. Hulle geslagregisters strek immers terug tot 1180. Die nuus van De Villebois-Mareuil se dood is dus met groot leedwese in Frankryk begroet. ’n Diens ter herinnering aan hom wat in die Notre Dame in Parys gehou is, is deur 10 000 mense bygewoon.

Graaf George Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil het in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel.

Daar is besluit dat ’n monument ter ere van hom in Nantes opgerig moet word. Die plein voor die Beursgebou in Nantes is as plek daarvoor gekies. Aan weerskante van die voetstuk van die monument beeld twee brons friese die veldslae by Blois en Boshof uit. Bo-op is ’n standbeeld van De Villebois-Mareuil wat sterf in die arms van ’n figuur wat Frankryk voorstel, onder die Franse vlag. Dit is deur die beeldhouer Raoul Verlet geskep en betaal uit publieke bydraes aan ’n fonds wat die inisiatief van die koerant La Liberté was. Dit is op 26 Oktober 1902 onthul. Daar word vertel dat Paul Kruger by die geleentheid teenwoordig was.

Nog standbeelde ter ere van hom is ook in Orleans en in Grez-an-Bouère opgerig.

Graaf George Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil is onder meer met standbeelde in Nantes, Orleans en Grez-an-Bouère vereer.

De Villebois-Mareuil is deur sy broer Christian as graaf opgevolg, maar met laasgenoemde se dood in 1924 het die titel doodgeloop.

Die monument in Nantes het al vele avonture beleef. Tydens die Duitse besetting van Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog is verskeie Franse brons standbeelde gesmelt en vir wapenvervaardiging gebruik, maar hierdie beeld is gespaar omdat die Nazi’s waardering daarvoor gehad het dat De Villebois-Mareuil teen die Britte geveg het! In 2020 is dit weer deur anti-kolonialisme betogers met verf toegetakel. Dit is egter gerestoureer en beklee steeds hierdie ereplek in die stad. Dit verskyn ook op die lys van die tien belangrikste standbeelde in die stad wat deur Nantes se metroraad opgestel is. Só word die verhaal van hierdie merkwaardige man en sy heldedade steeds in herinnering geroep.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners