Boeliekrisis in laerskole: AfriForum staan onderwysers, leerders met advies by
’n Studie wat pas bekendgemaak is, dui die omvang en impak van boeliegedrag in laerskole aan – ’n verskynsel wat AfriForum se teenboelieveldtogspan al sedert 2017 onder meer met gidse en besoeke aan skole probeer voorkom.
Dr. Julie Shantone Rubbi Nunan, ’n senior lektor verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), het navorsing oor boeliegedrag in laerskole gedoen deur onderhoude met leerders, onderwysers en opsigters by skole in Durban te voer. Dit het aangetoon dat verbale en fisiese geweld teenoor mekaar en volwassenes, asook vandalisme algemeen in laerskole voorkom. Van die negatiewe gevolge hiervan is dat onderwysers oorweeg om die beroep te verlaat en dat kinders in ’n atmosfeer van vrees en onderlinge wantroue probeer leer.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat daar gereeld berig word oor opspraakwekkende gevalle waar iemand ernstig beseer of skokkende video’s deur sosiale media versprei is. “Dit is egter net die oortjies van die spreekwoordelike seekoei. Die meeste gevalle word nooit eers aangemeld nie, omdat die slagoffers viktimisering vrees of bloot nie weet hoe om dit te hanteer nie.”
AfriForum het in 2017 met ’n teenboelieveldtog begin omdat navorsing bewys het dat die meeste geweldsmisdadigers mense is wat as kinders geboelie is. Ten einde die siklus so vroeg as moontlik te probeer verbreek, het Leandie Bräsler ’n teenboeliegids en gids oor kuberboeliegedrag saamgestel. Dit kan gratis van www.teenboelie.co.za afgelaai word.
In haar studie kom dr. Rubbi Nunan tot die gevolgtrekking dat boeliegedrag krisisafmetings in skole aanneem en dat dringende, effektiewe ingryping noodsaaklik is om gehalte onderrig en die welstand van kinders te beskerm.
Bailey beklemtoon dat hierdie ingrypings nie kan slaag as daar slegs na owerhede gekyk word om dit te lewer nie. “Ouers en gemeenskappe moet verantwoordelikheid aanvaar om hulleself met kennis oor boeliegedrag en maatreëls daarteen toe te rus en saam met skole en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum programme te skep wat waardegedrewe, volhoubare oplossings vir dié gedrag vind.”
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.