|

Bloemfontein-vullisverwydering: AfriForum verwyder 26 000 ton vullis gedurende Maart

AfriForum se vullisverwyderingspan in Bloemfontein het gedurende Maart ’n reuserol gespeel om dié stad skoon te hou deur ’n indrukwekkende 26 000 ton vullis te verwyder. Die vullisverwyderingspan poog om ’n vullisverwyderingsdiens te lewer wat betroubaar en volhoubaar is om die omgewing netjies te hou. 

Hierdie vullisverwyderingsdiens is uiteindelik ’n samewerkende inisiatief wat staat maak op die betrokkenheid van inwoners asook die aktiewe deelname van skole, meenthuiskomplekse en ondernemings insluit. Sodoende kan die gemeenskap help om ’n groter impak en verskil te maak.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, kan Bloemfonteiners nooit te gerus wees oor munisipale vullisverwydering nie aangesien die munisipaliteit nie juis ’n reputasie vir getroue dienslewering het nie. “Ons het besef dat munisipale vullisverwydering enige dag sommer kan stop sonder ’n duidelike raamwerk oor wanneer die diens weer hervat sal word. Vullisverwydering is noodsaaklik om ’n gesonde omgewing te handhaaf.”

“Ons wil graag ons getroue lede bedank vir hul bydraes en dat hulle glo in hierdie diens wat ons lewer, dit help ons om ’n verskil te maak,” sluit Groenewald af.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om aan te sluit by die vullisverwyderingdiens by www.vullisverwydering.co.za.

Soortgelyke plasings