|

Afrikaneridentiteit staan nou nog sterker ná dié 10 AfriForum-suksesse van 2025

Deur Megan Swart

Die Afrikaans 100 Lettertoer op sy pad na die Paarl.

Die Afrikaneridentiteit, -kultuur en die Afrikaanse taal het in 2025 nuwe hoogtes bereik toe die naam van dié unieke kultuurgemeenskap op bykans elke internasionale verhoog geuiter is. Met al hierdie blootstelling het die Afrikaneridentiteit egter ook ’n teiken geword wat AfriForum onverpoos op tuisbodem moes beskerm en uitbou.

Semi-Soet – die musiekblyspel

Die burgerregteorganisasie het gedurende 2025 op verskeie geleenthede die stryd voortgesit om te verseker dat dié taal en kultuur behoue bly én dat geregtigheid geskied. AfriForum het onder meer die Noord-Kaapse polisie aangevat oor hul onwettige eentalige optrede met betrekking tot die afneem van verklarings eksklusief in Engels en geveg dat erfenisskatte, soos die benaming van die Krugerwildtuin, voortbestaan. AfriForum het terselfdertyd alle verwagtinge in die vermaaklikheidsbedryf oortref met sy AfriForum Teater-produksie Semi Soet – die musiekblyspel en die eerste 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal behoorlik herdenk.

Dít is net sommige van die maniere waarop AfriForum in 2025, met behoud van sy unieke kulturele identiteit, Afrikaners nóg sterker laat staan het.

(Klik op die + om meer te lees van elke sukses.)

Kampvegters vir Afrikaans moes reeds vroeg in 2025 hand en tand vir die beskerming van Afrikaans in die Noord-Kaap veg. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in dié provinsie, waar slegs 3% van inwoners se moedertaal Engels is, Afrikaans stil-stil wou dooddruk. Genl.maj. Luntu Ngubelanga, adjunk- provinsiale polisiekommissaris, het vir polisiestasies in die provinsie opdrag gegee om voortaan verklarings slegs in Engels af te neem. Alle ander kommunikasie van die SAPD moes boonop ook slegs in Engels geskied.

AfriForum, Solidariteit en Kaapse Forum het dadelik die SAPD op sy onregmatige optrede gewys en die moontlike gevare uitgelig – soos aanklagte van regsverydeling – wat dié besluit kon inhou sou ’n polisiebeampte verklarings onakkuraat afneem. AfriForum het verder ook ’n klag by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) gelê.

Slegs agt dae later is die SAPD se bevel teruggetrek en die publiek kon weer soos tevore in hul eie taal met die polisie kommunikeer. Dié stryd was ’n beslissende oorwinning vir Afrikaans, alle inheemse tale en taalregte in die algemeen.

Doelgerigte aanvalle op Afrikaner-erfenis was in die week wat Erfenisdag landwyd gevier is, van stapel gestuur. Dié aanvalle was spesifiek gemik op die benaming van die Krugerwildtuin en die Paul Kruger-standbeeld in die Pretoriase middestad.

Die EFF het alle pogings aangewend om die naam van die Krugerwildtuin, ’n erfenisskat van enorme kulturele én ekonomiese waarde vir Suid-Afrika, te verander. Mpumalanga se provinsiale wetgewer het kwansuis die mosie vir die naamsverandering aanvaar, maar AfriForum het hierdie proses teengestaan en aangevoer dat dit wettiglik ongegrond, verdelend en skadelik is. Terwyl AfriForum se petisie teen hierdie proses aftrek gekry het, het die uitvoerende hoof van SANParke, Hapiloe Sello, bevestig dat die naam van hierdie wêreldbekende nasionale park geensins verander sal word nie.

In die week wat hierdie mosie ingedien is en die EFF ’n beroep op die vernietiging van Afrikanerstandbeelde in die parlement gedoen het, het vandale toegeslaan op die Kruger-beeldgroep op Kerkplein in Pretoria en van die Boerekrygerbeelde ernstig beskadig. Die burgerregteorganisasie het in reaksie daarop die inisiatief geneem vir die bewaring van hierdie Afrikaner-erfenisbaken deur die veiligheidsheining om die Kruger-beeldegroep te laat herstel en versterk.

Intussen het ’n ewebeeld van dié bekende Paul Kruger-standbeeld in dieselfde tyd ’n permanente staanplek in Orania gekry om sodoende te verseker dat dié erfenis verder behoue bly en beskerm kan word.

Op Moedertaaldag wat jaarliks in Februarie gevier word, is ’n nuwe proteslied, geskryf deur Johan Vorster in samewerking met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, bekendgestel. Die lied “Oranje”, gesing deur Steve Hofmeyr, het ontstaan ná meer as 10 000 mense op 5 November 2024, geklee in oranje, op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria toegesak het. Afrikaners het op dié dag standpunt ingeneem teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) se aanslag op Afrikaanse skole.

Ondanks verskeie ongegronde pogings om oranje te stigmatiseer, staan dié kleur al vir jare lank aan die kern van Afrikaner herkoms, ons ontstaansgeskiedenis én die Afrikaanse taal.

Ten spyte van al die uitdagings wat die Afrikaanse taal in 2025 in die gesig gestaar het, was dié jaar onder meer gekenmerk deur die viering van die eerste 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal. AfriForum was een van die organisasies wat voortou geneem het met die Solidariteit Beweging se Lettertoer, waar daar met nege reuseletters – wat die woord “Afrikaans” uitspel – van Pretoria na die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl gereis is.

AfriForum se gratis Afrikaanse stromingsdiens, AfriForumTV, het as deel van hierdie vieringe ’n nuwe musiekvideo en liedjie “100 jaar sterker” vrygestel. Die openingstrofe van die lied beskryf die voor- en teëspoed wat Afrikaans en die mense wat dié taal praat, deur die jare heen moes trotseer.

AfriForum het ook tydens die vieringe ’n inkleurboek bekendgestel om ouers en kinders op ’n prettige wyse oor die waarde van Afrikaanse moedertaalonderrig bewus te maak. Die boek, wat gratis beskikbaar is, maak ouers al so vroeg as moontlik bewus dat kinders se taalvaardighede ’n knou toegedien word wanneer hulle nie moedertaalonderrig ontvang nie. Om kinders in Engelse skole te plaas kan selfs tot ’n swak selfbeeld en gebrekkige redenasievermoeëns lei.

Daar was in 2025 bykans geen keer aan die aantal aanvalle op die Afrikaanse taal nie en AfriForum moes weer in Mei baklei (en het daarin geslaag) dat dié taal nie op die openbare uitsaaier se televisiekanale uitgewis word nie. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het vir die soveelste keer sedert 2024 die kanale en tye van Afrikaanse nuusbulletins geskuif, wat kykersgetalle oor die afgelope paar jaar drasties laat afneem het. Daar was ook bewerings dat die instelling voorberei om Afrikaanse nuusbulletins oor naweke te staak.

Die SAUK se bestuur het eindelik erken dat AfriForum en die breër kykerspubliek se hewige teenkanting teen dié veranderinge hulle die besluit laat heroorweeg het. Die openbare uitsaaier het ook onderneem om voortaan weer meer aandag aan Afrikaanse programme en nuusbulletins te gee en vroeg in 2026 is die nuusbulletins na die oorspronklike tydsgleuf teruggeskuif.

AfriForum se strewe na geregtigheid strek wyer as net die beskerming van Afrikanerbelange en sluit ook geregtigheid in die samelewing as geheel in. Een van AfriForum se belangrike suksesse van 2025 was daarom die hofoorwinning wat bevestig het dat matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word. Die regter het AfriForum en die ander betrokke partye gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en daarom moet voortgaan. Dit was ook ’n oorwinning vir mediavryheid en vryheid van spraak.

AfriForum moes hom tot die hof wend om leerders se belange te beskerm toe die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit in 2023 met ’n eiendomskategorie vir onderwysinstellings weggedoen het en ’n eiendomsbelastingverordening en -beleid aanvaar het wat privaat skole gekategoriseer het as openbare ondernemings. Dit het tot ’n drastiese styging in eiendomsbelasting vir privaat skole en ander onderriginstellings gelei.

Die hof het op 8 April 2025 uiteindelik ten gunste van AfriForum en die ander deelnemende applikante beslis en die verordening en beleid ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel.

AfriForum se jaarlikse Dink of Sink- onvoorbereidedebatskompetisie het in 2025 ’n nuwe mylpaal bereik toe die kompetisie sy meeste inskrywings nóg ontvang het. Naas 73 laerskoolleerders het altesaam 792 hoërskoolleerders, verteenwoordigend van 56 skole landwyd aan die kompetisie deelgeneem om hul debatsvaardighede op die proef te stel.

Universiteitstudente het ook ’n bydrae tot die Afrikaans 100-feesjaar gelewer deur dié debatskompetisie te wen met ’n debat ten gunste van moedertaalonderrig. Die finale mosie, “hierdie huis glo dat die prioritisering van Engels as lingua franca in Suid-Afrika ’n voortsetting van koloniale hegemonie is, ten koste van ware meertaligheid en kulturele regverdigheid”, het gesorg vir ’n onvergeetlike debat.

Om ’n nuwe era van Afrikaanse musiekblyspele in te wy het AfriForum Teater die lank verwagte produksie, Semi-Soet – die musiekblyspel, op 7 Mei op die planke gebring. Dié produksie, met Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander in die hoofrolle, het so gewild geraak onder die gehoor dat dit geskiedenis gemaak het as die eerste vertoning wat ooit ’n volledige uitverkoopte speelvlak van 48 vertonings by die AfriForum Teater gehad het. Bykans 20 000 mense het die blyspel gaan kyk en honderde mense het selfs teruggaan om die produksie vir ’n tweede keer te kyk.

AfriForum Teater het ná dié suksesvolle musiekblyspel van krag tot krag gegaan en verskeie gesogte toekennings en benoemings opgeraap. Dié tuiskomplek vir Afrikaanse kunste is tydens die Best of Pretoria-toekennings deur die publiek aangewys as die beste teater in Pretoria.

AfriForum Teater se klankingenieur, Pieter-Louis van Twisk, was boonop vir ’n Naledi-toekenning benoem in die kategorie Beste Klankontwerp. Dít was vir sy werk in Aspoestertjie – Die Pantomime wat in 2024 op AfriForum Teater se planke te sien was. Van Twisk het reeds vantevore ’n Naledi-toekenning ingepalm vir Die Gelofte – die musiekblyspel.

AfriForum se pogings om selfstandigheid en ’n gemeenskapsekonomie onder Afrikaners en die gemeenskappe waarin hulle woon en werk te vestig, het in 2025 vrugte afgewerp. AfriForum Sakenetwerk het plaaslike sakenetwerke in sowat sewe streke op die been gebring om volhoubare netwerkgeleenthede te skep waar Afrikaanse sakelui met mekaar bande kan smee en sake doen ter bevordering van selfstandige gemeenskappe.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners