Afrikaanse skole moet voorbereid wees – of ander besluit namens jou
AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit waarsku dat skole hul beleidsdokumente asook kapasiteitsbepaling betyds moet voltooi en wettig dokumenteer om beskerming te bied teen toenemende druk om hul toelatings- en taalbeleide aan te pas.
“Dit het aan die lig gekom dat sekere distriksamptenare reeds opleiding ontvang het, gebaseer op ’n eensydige en potensieel strydige interpretasie van die nuwe gepubliseerde riglyne rakende leerderplasing en taalbeleid,” sê Marius Botha, onafhanklike onderwysbestuurskonsultant. “Amptenare word nie net toegerus nie, maar aktief opgelei om hierdie interpretasie as operasionele opdrag uit te voer – selfs in gevalle waar skole reeds oor goedgekeurde en wetlik geldige beleide beskik. In sommige distrikte het skoolhoofde reeds opdrag ontvang om bestaande taalbeleide aan te pas volgens die nuwe gewysigde Skolewet.”
Aanlyn aansoeke vir graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng vir die 2026-skooljaar open op 24 Julie 2025 en sluit op 29 Augustus 2025.
Die implementeringsriglyne vir die gewysigde Skolewet, wat vroeër vanjaar gepubliseer is, skep ruimte vir skole – en veral Afrikaanse skole – om hul onderrigtaal en toelatingsbeleid te verdedig. Dié beskerming is egter afhanklik van behoorlike dokumentasie.
“Skole wat hul kapasiteit nie formeel en deursigtig vasstel nie, verloor ’n waardevolle regsbasis,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “’n Geldige kapasiteitsbepaling is nie bloot administratief van aard nie, maar ’n sleutelkomponent om te help om toekomstige aanslae op Afrikaanse skole af te weer.”
Die riglyne bepaal dat geen skool verplig kan word om sy taalbeleid te wysig as hy reeds sy kapasiteit bereik het en genoegsame aansoeke ontvang het nie. Hierdie voorsiening geld slegs indien die skool oor ’n vasgestelde kapasiteitsbepaling en toelatingsbeleid beskik wat ooreenstem met wetlike riglyne.
“Daar bestaan steeds ’n oneweredige aanvraag na Afrikaanse skole,” sê Fourie. “Dit verhoog die risiko van oorplasing en politieke druk om op hierdie aanvraag te reageer.”
Die SOS sal binnekort ’n gestruktureerde gids beskikbaar stel om skole te ondersteun met die regmatige vasstelling van hul kapasiteit. Die dokument sal dien as belangrike hulpmiddel om taal- en toelatingsbeleide te versterk en behoort in noue samewerking met die skoolbeheerliggaam geïmplementeer te word.
AfriForum moedig ouers aan om seker te maak dat hulle hul kinders se aanlyn aansoeke vir 2026 so gou en volledig as moontlik indien. Inligting om ouers oor die proses te adviseer, sal deurlopend voorsien word. “Dit is noodsaaklik dat ouers, beheerliggame en die personeel van skole die prosesse om beleide te bepaal, kapasiteit vas te stel en registrasies te hanteer noukeurig volg. Dit sal help om te voorkom dat leemtes geleenthede skep vir amptenare om druk op skole te plaas om van hul taal- en plasingsbeleide af te wyk,” voeg Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, by.
Volgens Solidariteit sal alles moontlik gedoen word om ’n veilige omgewing vir onderwysers te skep om skool te gee. “Ons wil nie hê hulle moet bekommer oor politieke kwessies nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Skole kan AfriForum, Solidariteit of die SOS kontak vir ondersteuning of regsadvies indien hulle druk van amptenare ervaar om hul taal- of toelatingsbeleid aan te pas.