|

Afrikaanse pendeldiens WANATU se wiele weer aan die rol danksy AfriForum-regshulp

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het vandag ’n dringende interdik toegestaan aan die Afrikaanse e-vervoerdiens, WANATU, wat die Tshwane-metropolisie (TMPD) verbied om hul voertuie te skut totdat die proses om permitte te bekom weer in werking gestel is. Dié oorwinning wat WANATU en sewe mede-applikante in dié aansoek behaal het, is moontlik gemaak danksy die hulp van AfriForum se regspan.

’n Volledige hofaansoek, waarin WANATU argumenteer dat die huidige wetgewing waarvolgens permitte vir taxi-dienste vereis word nie op e-vervoerdienste van toepassing is nie, sal nou volg.

WANATU, wat sedert Oktober verlede jaar in Pretoria en Centurion bedryf word, se diens is op 5 Februarie onverwags gestaak nadat die TMPD twee van sy voertuie geskut het. Die TMPD het aangevoer dat die diens nie oor die korrekte permitte beskik nie. WANATU het egter in die hof bewys dat die verkryging van die korrekte permitte onmoontlik is, aangesien die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer die aanvaarding en verwerking van alle permitaansoeke gestaak het. Die hof het op grond daarvan WANATU se dringende aansoek om ’n interdik toegestaan.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, meen dat die interdik ’n reuseoorwinning vir pendeldiensondernemings is. “WANATU lewer tans ’n onontbeerlike diens aan kliënte in die Pretoria-omgewing en die opskorting van hul diens op grond van ’n probleem aan die kant van die staat, het talle kliënte sonder ’n veilige en betroubare opsie gelaat. Om hierdie oorwinning boonop op Internasionale Moedertaaldag te kon beklink, is ’n bykomende rede vir vreugde. WANATU se bevordering van Afrikaanse entrepreneurskap vanuit en vir die Afrikaanse gemeenskap kan nou weer, danksy AfriForum se steun, voortgesit word,” verduidelik Boshoff.

Volgens Judith van der Walt, uitvoerende hoof van WANATU, is hierdie nie net ’n oorwinning vir bestuurders van e-vervoerdienste nie, maar vir alle Pretorianers wat ’n behoefte aan veilige en gerieflike vervoer het. “Dit is ’n oorwinning vir elke e-pendeldrywer in die Tshwane-metro. Die stad kan nie drywers straf vir ’n agterstand wat hulle nie veroorsaak het nie,” verduidelik Van der Walt.

Van der Walt benadruk dat dié e-pendeldiens daartoe verbind is om alle nodige regulasies na te kom.

Soortgelyke plasings