Afrikaans se 100ste jaar met nuwe bordspel gevier
Afrikaans vier vanjaar sy eerste 100 jaar as amptelike taal en dié ongelooflike mylpaal is al op verskeie plekke en maniere gevier. Die vieringe vir dié groot verjaardag is gister by die FAK Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument voortgesit met die bekendstelling van Die Afrikaans100-bordspel.
Dié bordspel is nie net pret nie, maar gee spelers ook die geleentheid om meer oor die mooiste taal te leer. Volgens Nico Steyn, operasionele bestuurder van Spoetnik-bordspeletjies, is die spel in samewerking met die FAK ontwerp en is dit daarop gemik om die hele gesin aan die speel te kry.
“Enigiemand – jonk én oud – kan saamspeel. Of dit nou ouma en oupa is of kinders van so jonk as 10 jaar, almal kan saamspeel. Iemand wat van Afrikaans hou of meer daaroor wil leer sal die speletjie baie geniet,” sê Steyn.
Só werk Die Afrikaans100-bordspel

Die Afrikaans100-bordspel word in spanne van twee of meer spelers gespeel. Elke span rol die dobbelsteen om te bepaal hoe ver hulle aanvanklik op die bord beweeg. Blokkies op die bord het verskillende kleure wat bepaal van watter pak kaartjies ’n leidraad of leidrade gegee moet word. Een speler gee die leidraad en die ander spanlede moet dit beantwoord of ontrafel. ’n Span wat die kaartjie voltooi kan aan die begin van hul volgende beurt weer die dobbelsteen rol om verder op die bord te beweeg.
’n Span wat nie die kaartjie voltooi nie sal ’n tweede kaartjie van dieselfde afdeling moet probeer voltooi om die geleentheid te kry om die dobbelsteen weer te rol. As ’n span egter vir ’n tweede keer op dieselfde blokkie vasbrand, kan hulle met hul derde poging ’n kaartjie uit die Japsnoet-afdeling trek en probeer voltooi. Laasgenoemde afdeling is aansienlik makliker en omtrent almal behoort hierdie leidrade te baas te raak. Die bordspeletjie is juis só ontwerp om die jongspan ook ’n kans te gee om met volwassenes mee te ding.

Meer oor die afdelings
Vrae, leidrade en aktiwiteite in dié bordspeletjie word in ses afdelings ingedeel, naamlik:
- Liedjies: Sing, neurie of fluit ’n vers van een van die liedjies vir jou spanmaats om te identifiseer.
- Gedigte: Spelers lees ’n vers uit ’n bekende gedig voor en die ander spanlede moet uit drie opsies kies om te raai wie die digter daarvan is.
- Idiome: Verduidelik ’n idioom met die gebruik van stomstreke of voltooi vier idiome in 30 sekondes.
- Ontsyfer: Verduidelik binne 30 sekondes vier woorde aan spanlede sonder om die woord self te gebruik.
- Spelling: Jou spanmaat moet een van drie woorde op die kaartjie binne 30 sekondes spel.
- Japsnoet: ’n Makliker weergawe van die ander afdelings se vrae wat soos vroeër bespreek is, aangewend word. Spelers kan ook oorweeg om hierdie kaartjies meer gereeld te gebruik om die spel effens makliker te maak.
“Ons het verlede jaar saam met die FAK besluit om ’n bordspeletjie te ontwikkel om Afrikaans se verjaardag te vier. Ons wou iets skep wat pret is om te speel en spelers ook meer oor ons taal leer en sodoende die taal uitbou,” verduidelik Steyn.

Steyn sê die speletjie is tans by die drukkers en behoort teen die begin van Oktober op uitgesoekte winkels se rakke beskikbaar te wees asook by sommige aanlyn winkels. Die koste van die speletjie sal ongeveer R500 tot R600 beloop. Besoek Spoetnik se webwerf om meer uit te vind oor hul ander gewilde bordspeletjies, insluitend Boereplaas, TydToer en Voetspore van Israel.