| |

Afrikaans 100 – Taalheld 8 – Dalene Matthee – van bosbetowering tot lewende geskiedenis

By ’n funksie sit ek onlangs langs ’n taalonderwyseres. Ons praat oor boeke en ons fiktiewe helde. “Ek is so 90% verlief op Bennie Griesel, maar 100% op Saul Barnard,” sê sy. Dié spottende opmerking bewys wat Dalene Matthee (en Deon Meyer) só uitnemend in Afrikaans kon doen, naamlik om karakters te skep wat soos “regte mense” vir haar gehoor voel. Sy het daarin geslaag om van boekwurms tot selfs die leesskuste mense in Afrikaans aan die lees te kry. Twintig jaar na haar dood ontdek ’n nuwe generasie haar boeke en word mense steeds aangemoedig om die woude om Knysna te gaan verken omdat die verhale uit haar pen hulle aangryp.

Dalena (Dalene) Scott is op 13 Oktober 1938 in Riversdal gebore. Haar pa, Danie Scott, was na bewering ’n direkte nasaat van die beroemde Skotse skrywer, sir Walter Scott! Sy was die middelste van vyf kinders en het aan Hoërskool Langenhoven in Riversdal gematrikuleer. Op skool was sy bekend vir haar puik opstelle. In 1957 is sy getroud met Larius Matthee, wat vir Standard Bank op die dorp gewerk het. Kort daarna het hulle na Oudtshoorn verhuis. Vyf jaar later is hulle na Darling. Die egpaar het toe reeds twee dogtertjies gehad en ’n derde is op Darling gebore. Hier het Dalene kinderstories die SAUK se kinderprogram, Siembamba, begin skryf. In 1967 is hulle na Graaff-Reinet waar sy as kurator van die Hester Rupert Kunsmuseum aangestel is en by dr. Anton Rupert se restourasieprojekte op dié dorp betrokke geraak het. Teen hierdie tyd het sy ook kortverhale vir tydskrifte soos Die Huisgenoot en Sarie begin skryf, asook haar enigste kinderboek, Die Twaalfuur-Stokkie.

In 1971 verhuis die gesin weer – hierdie keer na Uniondale waar Larius as bestuurder van die plaaslike Standard Banktak aangestel is. Sy het daar ook betrokke geraak met die restourasie van historiese geboue. In 1977 het Larius weens gesondheidsprobleme vroeg afgetree en in 1978 het hulle hulle in Hartenbos gevestig. Aan die einde van die jaar het sy, haar man, hulle dogter Amanda, broer en skoonsuster gaan stap in die Knysnawoud. Die eikebome wat hulle in die middel van die woud raakgeloop het, het haar gefassineer en sy het meer daaroor by die museum in Knysna probeer uitvind. Daar het sy op die stories van die omgewing afgekom wat tot haar vier “bosboeke” aanleiding gegee het.

Sy het al meer tyd aan haar skryfwerk gewy en ’n Huis vir Nadia; Petronella van Aarde, burgemeester; Die Judasbok; Kringe in ’n bos; Fiela se kind; Moerbeibos; Brug van die esels; Susters van Eva en Pieternella van die Kaap is gepubliseer.

Na Larius se dood in 2000, het sy in 2003 besluit om na Mosselbaai te verhuis. Daar het sy Toorbos en Die uitgespoeldes voltooi, voordat sy op 20 Februarie 2005 onverwags aan hartversaking oorlede is.

Op 23 Februarie 2008 is ’n gedenkteken ter nagedagtenis aan haar daar onthul en ’n reuse geelhoutboom wat daar groei en na raming byna 900 jaar oud is, is ook na haar vernoem. ’n Wandelroete wat by Krisjan-se-Nek begin, staan nou as die Kringe-in-’n-bos-roete bekend. Die inskripsie op die gedenkteken lui: “Dalene het dikwels hier by Krisjan-se-Nek haar siel kom voed om haar stories oor die bos te kon skryf. Dit is waar sy nou rus.”

Sy word onthou as ’n vrolike, eksentrieke, ruimhartige en veelsydige mens wat ’n lisensiaat in musiek gehad het (en dus ’n uitnemende pianis was), gholf gespeel het, graag gedobbel het, lief vir koffie was en in ’n feëdimensie in die natuur geglo het. Oor haar liefde vir die Knysnawoud het sy gesê dat sy altyd die bos groet wanneer sy dit binnegaan en altyd hartseer word wanneer sy dit verlaat. Dit was soos ’n gerespekteerde, magtige vriend vir haar. Sy het ook so na die see verwys.

Volgens haar dogter Hilary het sy haar eerste drie boeke met die hand geskryf – met ’n geel potlood in lyntjies-oefeningboeke! Sy het van ’n ordelike omgewing gehou en haar studeerkamer moes altyd netjies en skoon wees. Omdat sy leuens verafsku het, het sy uiters noukeurige navorsing vir haar boeke gedoen om die stories so na as moontlik aan die waarheid te hou. Sy het navorsing met dobbel vergelyk – dit is moeilik om op te hou want jy glo altyd dat jy die stukkie goud sal vind as jy net lank genoeg aanhou. In ’n TV-onderhoud het sy genoem dat sy inderdaad ook na werklike goud in die bos gesoek het, maar skynbaar sonder sukses.

Benewens vele letterkundige toekennings, is een van die interessantste erkennings vir haar werk wat sy ontvang het, die toekenning van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Bosbou. Sy was die eerste persoon van buite die departement van Bosbou en ook die eerste vrou om dit te ontvang. Die rede waarom sy aangewys is, is dat sy deurgaans in haar werke en onderhoude die noodsaak van die bewaring van inheemse fauna en flora beklemtoon het en soveel moeite gedoen het om akkurate tegniese en historiese inligting in haar boeke weer te gee. Sy was verder ook ’n ereburger van Riversdal en Hartenbos, en in 1993 het sy die jaarlikse toekenning van die Stiftung für Abendländische Besinnung in Zürich, Switzerland ontvang vir haar bydrae tot Westerse Kultuur. Volgens dié stigting was dit uit erkenning vir haar “warm en kragtige romans wat uitdrukking gegee het aan haar betrokkenheid by die bedreigde omgewing en aan elke mens se fundamentele reg tot ’n kulturele identiteit”, asook haar letterkundige bydrae en lewendige belangstelling in natuurbewaring.

Volgens die bronne wat vir hierdie artikel geraadpleeg is, is haar boeke in vyftien tale vertaal – dit mag nou reeds meer wees. Soos Langenhoven het sy daarin geslaag om mense wat nie sommer ’n boek sou optel nie, aan die lees te kry. Die feit dat van haar boeke ook voorgeskrewe werke vir skoliere en studente was en steeds is, stel haar aan nog geslagte lesers voor. Die letterkundige kritikus prof. Wium van Zyl het by geleentheid gesê dat haar werke só aangrypend is omdat sy leesstof bied vir beide die gewone lesers, asook iemand wat meer intellektuele stimulasie verlang, plus dat sy met aandag en respek na behoeftiges kon kyk.

Met die herdenking van ’n eeu van Afrikaans as amptelike taal, en twintig jaar na haar dood, wonder ’n mens onwillekeurig wat sy oor Afrikaans gesê het. Daar is twee aangrypende aanhalings wat in 1992 onderskeidelik in Die Burger en Beeld verskyn het, naamlik “En ek dink die vreeslikste ding wat ’n mens kan oorkom, is as jy nie in jou eie taal sou kon skryf nie” en “Maar ek gaan nie in ’n ander taal skryf nie. Afrikaans is die taal van my siel.”

Die bydrae van hierdie unieke mens sal nog vir vele geslagte lesers vreugde en kennis bring – veral in Afrikaans, haar geliefde moedertaal.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners