| |

Afrikaans 100 – Taalheld 7 – C.J. Langenhoven, Afrikaans se Sagmoedige Neelsie

C.J. Langenhoven het só ’n kleurvolle lewe gehad en was só produktief as skrywer en spreker, dat dit haas onmoontlik is om kort en bondig te vertel wie hy was.

Om by die begin te begin, Cornelis Jacob Langenhoven is op 12 Augustus 1873 as jongste van vier kinders op die plaas Hoeko in die omgewing van Ladismith onder tragiese omstandighede gebore. Een van sy broertjies is enkele dae tevore in ’n brand oorlede. Vyf dae na sy geboorte is Langenhoven se ma ook oorlede. Hy is deur ’n oom en tante wat op die plaas gebly het, aangeneem en liefdevol grootgemaak. Omdat hy vroeggebore was, was hy nie ’n sterk kind nie. Sy sussie is ook jonk oorlede en buiten vir hom, het net sy broer Phillip volwassenheid bereik.

Al die onderrig wat hy ontvang het, was in Engels, iets wat bygedra het daartoe dat hy as volwassene deurgaans voorspraak vir Afrikaanse moedertaalonderrig gemaak het.

Sy skoolloopbaan het op die plaas begin, is later in Ladismith en toe by die Riversdal Public School for Boys voortgesit. By laasgenoemde het hy sy talent as spreker en skrywer begin uitleef – hy was onder meer voorsitter van die Engelse debatsvereniging en redakteur van die skoolkoerant. Hy het in Junie 1892 met die derde beste prestasie in die Kaapkolonie gematrikuleer.

In 1893 het hy die onderwyseres Helena de Vries van Prins Albert tydens ’n debatsaand wat op Ladismith gehou is, ontmoet. In 1894 het hulle verloof geraak.

Hoewel sy pleegouers gemeen het dat hy ’n predikant moes word, wou hy graag regte studeer, maar dit was nog nie moontlik by Victoria College in Stellenbosch waarheen hy in 1893 is nie. Hy het dus eers ’n BA-graad behaal (1895).

Hy het geglo dat Nederlands geen toekoms meer in die land gehad het nie, maar het betreur dat Afrikaans ondergeskik aan Engels was omdat dit toe onder meer nog nie ’n letterkunde gehad het nie en net oor ’n beperkte woordeskat beskik het. Hy het egter kennis geneem van die werk van ander taalpioniers en het begin meewerk om toe te sien dat Afrikaans wel tot daardie vlak sou kon ontwikkel. In dié verband het hy ook die stigting van debatsvereniginge deur die land bepleit.

Hy het nooit juis aan sport deelgeneem nie, want volgens hom het hy beter dinge gehad om met sy tyd te doen!

Vanaf Julie 1895 het Langenhoven skoolgehou by ’n eenmanskooltjie op die plaas Langlaagte naby Heidelberg (in die destydse Transvaal). Dit was nie ’n sukses nie en in Maart 1896 het hy teruggekeer na Hoeko. Kort daarna het Helena die verlowing aan hom verbreek.

Langenhoven het onderrig op Ladismith begin aanbied en verlief geraak op die ma van een van sy studente, die weduwee Magdalena Maria van Velden (gebore Hugo). Al was sy meer as tien jaar ouer as hy, is hulle in 1897 getroud. Sy het vier kinders uit haar eerste huwelik gehad, waarvan twee jonk oorlede is, en sy en Langenhoven het saam ’n dogter, Engela, gehad (gebore 1901).

Na sy huwelik het sy loopbaan verskeie spronge gemaak. Van 1896 tot 1899 was hy ’n kandidaat-prokureur op Ladismith. Ook in 1899 het hy ’n LLB-graad aan die University of the Cape of Good Hope verwerf en as prokureur in Oudtshoorn begin praktiseer. In 1901 is hy as advokaat van die Kaapse hooggeregshof toegelaat, maar opdragte was skaars en in 1902 het hy weer as prokureur in Oudtshoorn begin werk.

In hierdie tyd het die politiek hom al meer begin interesseer en het hy bekendheid as talentvolle spreker begin verwerf. Teen 1910 het hy vir Afrikaanse publikasies van die tyd begin skryf en in 1912 die redakteur van die plaaslike koerant, Het Zuid-Westen, geword. Sy assistent by die koerant was Sarah Goldblatt, met wie hy lewenslank ’n hegte verhouding gehad het.

Het Zuid-Westen moes helaas op 9 Januarie 1915 weens finansiële probleme sluit. Teen hierdie tyd was Langenhoven reeds tot die Provinsiale Raad verkies. Hy het nog soms sake hanteer, maar al minder na gelang sy skryfwerk en die politiek meer aandag vereis het. Hy het onder meer van 1922 tot sy dood ’n weeklikse rubriek vir Die Burger geskryf.

As provinsiale raadslid het hy in 1914 ’n mosie ter tafel gelê waarvolgens Afrikaans as voertaal tot en met standerd vier in Kaapse skole erken moes word. Die mosie is aanvaar en die Transvaalse en Vrystaatse provinsiale rade het dieselfde jaar ook so besluit. Net in Natal het dit eers in 1923 geskied. Dit was die begin van die implementering van Afrikaans as onderrigtaal tot op die hoogste vlak. In 1917 is Afrikaans as voertaal vir die hele laerskool geïmplementeer en vanaf 1920 vir hoërskole.

Langenhoven is gereeld geprys vir die feit dat hy beide teorie en praktyk sinvol kon bepleit. Dit was ook die geval met sy aktivisme vir Afrikaans. Hy het byvoorbeeld in 1914 by die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst gepleit dat Afrikaanse skoolhandboeke en spelreëls geskep moes word sodat die taal kon groei. Hy het ook voorspraak gemaak vir Afrikaans as kanseltaal.

Sy politieke loopbaan was soms stormagtig, maar hy het ’n sterk basis ondersteuners opgebou, insluitend adv. S.P. le Roux, wat later ’n kabinetsminister sou word. Langenhoven het selfs die peetvader van sy seun, die skrywer Stephanus Petrus Daniël le Roux (beter bekend as Etienne Leroux), geword.

In 1921 het Langenhoven ’n senator geword en in 1925 het hy die verslag opgestel wat tot die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal sou lei.

Deur sy lewe het hy verskeie toekennings ontvang. Die mees gewaardeerde hiervan was waarskynlik ’n eredoktoraat wat in 1931 deur die Universiteit van Stellenbosch aan hom toegeken is.

C.J. Langenhoven is in 1932 in Oudtshoorn oorlede.

Een van Langenhoven se grootste bydraes is dat hy Afrikaanssprekendes geleer het om in hulle eie taal te lees, en ook nie net die Bybel nie, maar allerlei leesstof. Hy het op ’n keer gesê dat hy vir “alle kinders van 8 tot 88” skryf. Hy kon besonder vinnig skryf, maar altyd in ’n netjiese handskrif. In die proses het hy dikwels nuwe woorde geskep om Afrikaans ook só te laat groei. Hy is al beskryf as ’n pionier – die eerste skrywer van ’n riller, speurverhaal, wetenskapsfiksie en spookstories in Afrikaans. Verder het verskeie toneelstukke, gedigte, romans, satires, kinderverhale, Bybelverhale, pleitstukke, outobiografiese sketse, berymings van psalms en gesange en selfs handleidings vir Engelssprekendes wat Afrikaans wou leer uit sy pen verskyn. Benewens sy eie naam, het hy ook werke onder die skuilname K.R.N., Oom Kerneels, Sagmoedige Neelsie, Stoffel Gieljam en Elspet gepubliseer. Sy bekendste gedig is Die stem van Suid-Afrika wat hy in 1918 geskryf het. Aanvanklik het hy dit self getoonset, maar die wysie was nie gewild nie. Daarna is dit deur M.L. de Villiers getoonset en op 2 Mei 1957 tot amptelike volkslied verklaar.

Langenhoven is op 15 Julie 1932 in die gesin se huis Arbeidsgenot op Oudtshoorn aan hartversaking oorlede. Dié huis is vandag ’n museum wat sy unieke rol in herinnering roep. Uit respek het Die Burger na sy dood twee weke lank die kolom waar sy rubriek sou verskyn, leeg gepubliseer as huldeblyk aan hom. Sy voorskrifte vir sy begrafnis was dat hy ten minste eers drie dae ná hy dood verklaar is, in ’n onversierde kis te ruste gelê moes word, maar dat sy skedel aan die Universiteit van Stellenbosch nagelaat moes word. Vroeër het hy dié wens uitgespreek:

Die titel van sy bundel outobiografiese sketse, U dienswillige dienaar, vertel baie oor sy ingesteldheid. Hy was skynbaar egosentries, maar tog ook baie behulpsaam en medemenslik. Van die herinneringe aan hom is dat hy Kersfees in Oudtshoorn se strate gaan stap het en munte vir die kinders uitgedeel het. Hy was ook baie lief vir sy hond, wat soos sy gesin, ’n belangrike rol in van sy skryfwerk gespeel het. Soms word op die meer kontroversiële aspekte van sy lewe gefokus, byvoorbeeld sy probleem met alkohol en sy verhouding met Sarah Goldblatt, maar sy bydrae het so ’n direkte rol gespeel in die erkenning en groei van Afrikaans, dat niks dit kan oorskadu nie. Op die flapteks van J.C. Kannemeyer se biografie, Langenhoven – ’n Lewe, word hy beskryf as “een van die grootste figure wat op die gebied van die Afrikaanse literatuur en geesteslewe werksaam was”. Dit word bevestig deur die tydloosheid van vele van sy werke, insluitend die spreuke waarvan enkeles hier aangehaal word.

Langenhoven was baie lief vir sy hond, wat soos sy gesin, ’n belangrike rol in sy skryfwerk gespeel het.
  • Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak: die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.
  • Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.
  • Dit is net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.
  • Gee my ’n man wat sê wat waar is as die duiwel daar is, wat doen wat reg is as die regter weg is en wat trou by sy gewete bly as hy straf in plaas van beloning kry.
  • Dit beteken nie altyd veel om ’n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op ’n begrafnis is die dooie man.
  • Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is die wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.
  • Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is; jou gelyke omdat dit jou plesier is; jou mindere omdat dit jou voorreg is.
  • Die afdraande van die heenreis is die opdraande van die terugkoms.
  • Die wêreld draai nou is hy vriendelik en dan is hy kwaai: vandag is hy soet en môre weer suur; geen blydskap hou stand en geen droefheid duur.
  • Om jou één eie taal tot nut te gebruik is ’n groter kuns as om sewe vreemdes by te leer.

Soortgelyke plasings