AfriForumTV se ‘Nomades’ laat voete behoorlik jeuk vir stap
Deur Ilze Nieuwoudt
Vier stappers. Nege provinsies. ’n Totaal van 252 km en tientalle onvergeetlike oomblikke in van die mooiste landskappe in Suid-Afrika. Dít is wat op jou wag in AfriForumTV se nuwe leefstylprogram Nomades met die energieke aktrise Anré Bouguenon en Elrich Yssel, Wayne Young en Luan Lauw as aanbieders.

Hierdie reeks sal elkeen wat al voorheen staproetes aangedurf het, dwing om die stapskoene te gaan afstof, want met lente om die draai is die tyd ryp om die land se skoonheid, berge, dale en die geur van die natuur opnuut te gaan verken. Dié wat nog nie ’n staptoer agter die blad het nie, sal ná Nomades beslis ingekoop wees op die avontuur, want daar is iets vir almal – die luilekker wandelaar, die toegewyde meesterstapper én die ontdekker. Of dit nou ’n rateltaai multidag-staproete is, soos die Klipspringer-roete in die Augrabies Nasionale Park, ’n aanskoulike eendagroete, soos een van die B’sorah-roetes buite Broederstroom in Noordwes, of selfs ’n slenterroete (slack pack) soos die Luiperd-roete in die Baviaanskloof in die Oos-Kaap is, Suid-Afrika met sy uiteenlopende landskappe bied meer as genoeg om van te kies.
Hoe dit ook al sy, staproetes bied ’n bekostigbare en toeganklike wegbreekkans vir oud en jonk en is die ideale manier om die stad met sy gejaag agter te laat. Die Nomades-span het boonop in hierdie reeks van die beste en aanskoulike roetes in die land op die proef gaan stel.
Bouguenon wat vroeër vanjaar in die sepie Binnelanders te sien was, en haar medeaanbieders pak in hierdie agt-episode-reeks van die bekendste drie- tot vierdagroetes, waaronder die magiese Magoebaskloof-roete in Limpopo en die dramatiese Tugelawaterval-roete in die KwaZulu-Natalse Drakensberge, aan. Ander minder bekende, maar ewe aanskoulike roetes is ook in dié landwye avontuur ingesluit, soos die uitdagende Elangeni-roete, geleë langs die Elandsrivier net buite Waterval-Boven in Mpumalanga en die tweedag- Klipkraal-roete op die heuwels van die Suikerbosrand in Gauteng.


Nomades bied aan kykers al die nodige inligting oor die staproetes wat aangepak word, wys voornemende stappers wat hulle te wagte kan wees op die roete, by die akkommodasie en waar die beste waterpoele en ander besienswaardighede op die roetes versteek is. Danksy uitstekende videografie – kompleet met aanskoulike hommeltuigtonele – kry kykers ’n blik op die berge, riviere en die diep blou see wat van Nomades ’n uitsonderlike lus vir die oog maak. Die aanbieders deel hul raad, gee eerlike menings oor taai opdraandes en seer lywe en doen mee om ’n suksesvolle en eerlike blik op elke staptog te gee.
Vyf vinnige vrae aan die Nomades-stappers

Forum Nuus het by die Nomades-span aangeklop om vyf vinnige vrae te beantwoord oor die moets en moenies, hul gunstelingroetes en om raad vir beginnerstappers te gee en dit is wat hierdie span geharde stappers te sê het:
- Wat is die drie items waarsonder jy nooit ’n staproete sal aandurf nie?
Wayne Young (WY): “Filterkoffie, droëwors en my betroubare Adidas-stapskoene.”
Anré Bouguenon (AB): “My water bladder, veral as dit ’n lang staproete is, ’n kopliggie en toiletpapier, want jy weet nooit wanneer kom daar ’n nood nie!”
- Watter roete was vir jou die uitdagendste en hoekom?
Luan Lauw (LL): “Die Elangeni in Mpumalanga se berg het my baie moeg gemaak, Klipspringer in Augrabies se hitte was rêrig erg, maar die Luiperd-roete was vir my oor die algemeen die uitdagendste.”
AB: “Magoebaskloof was vir my ontsettend uitdagend. Ek was verskriklik siek en het op die dag wat ons vertrek het my laaste antibiotikapilletjie gedrink […] Dit het vir my gevoel asof ek doodgaan op die staproete, maar dit was nog steeds baie, baie mooi gewees. Ek wens eintlik ek kan Magoebas weer gaan stap, maar met ’n gesonde gestel, net om dit weer te ervaar en van die PTSD ontslae te raak.”

- Watter roete was vir jou die mooiste en hoekom?
WY: “Magoebaskloof bly maar vir my die mooiste. Die woudagtigheid en groenigheid met al die bome is maar net vir my iets spesiaal.”
AB: “Dit is verseker die Luiperd-roete in die Oos-Kaap. Dit was 64 km in 4 dae. Dit was uitdagend, maar ontsettend mooi. Die weer het net mooi saamgespeel, die geriewe en die verblyf was so mooi, en jy stap deur die wilde proteas wat in die berge groei.”
- Hoekom stap jy?
AB: “Ek stap want ek voel natuur is kos vir die siel. As die lewe partykeer bietjie tough raak sonder jy jouself af en kom weg uit die stad. Baie keer is daar nie eens sein nie en jou foon is net ’n kamera. Jy sny jouself af en dit is net jy en die natuur. Jy dink oor dinge en dit is natuurlik goeie oefening ook.”
LL: “Want ek sien plekke wat ek nooit andersins in die natuur sou sien nie. Die lekkerste is egter om dit met mense te deel. Die kameraderie tydens ’n staptog is die rede hoekom ek stap.”
- Wat is jou raad vir beginnerstappers?
LL: “Begin met lekker dagroetes, want kort voor lank gaan die gogga byt. En begin net waar jy is, al het jy nie die duur toerusting nie.”
AB: “Pace jouself. Stap so rus-rus en neem die omgewing in. Moenie jouself te hard druk nie. Vat die blaaskans en geniet die omgewing.”
WY: “Begin net. Begin met wat jy het. Moenie al die duur toerusting gaan koop nie, want dit is glad nie nodig nie. Jy kan baie goedkoop wegkom.”
Nomades is NOU beskikbaar op AfriForum se eie gratis aanlyn stromingsdiens AfriForumTV. Klik hier om die volle reeks te stroom.

