AfriForum wens UP-student geluk met historiese mylpaal vir Tswana-moedertaalonderrig
Dekfoto: Dr. Bodibadi Modungwa tydens haar gradeplegtigheid. Bron: Facebook, Universiteit van Pretoria
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag dr. Bodibadi Modungwa geluk gewens met die voltooiing van haar PhD in Tswana – die eerste tesis in dié taal aan die Universiteit van Pretoria (UP). AfriForum benadruk dat die onderneming van gevorderde studies in plaaslike moedertale van kritieke belang is vir die land se onderskeie taal- en kultuurgemeenskappe om werklik vry en voorspoedig te wees en om die ontwikkeling van dié tale te bevorder om hoër taalfunksies te vervul.
Modungwa het vroeër vandeesmaand haar PhD verwerf vir haar navorsing oor Tswana-moedertaalonderrig vir graad 11- en 12-leerders. Sy het dié prestasie behaal ná meer as drie dekades se toegewyde werk in die onderwys en bevordering van moedertaalonderrig. Volgens ’n berig op die UP-webblad, ag Modungwa hierdie mylpaal as ’n bevestiging van die waarde van haar moedertaal en Tswana-kultuur, terwyl dit ook die “deur open vir verdere navorsing, bewaring en erkenning van Afrika-tale in hoër onderwys”.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, bied moedertaalonderrig uiteenlopende voordele. “Mense wat taalgebruik, redenasievermoë en die begrip van abstrakte konsepte – soos byvoorbeeld wiskundeformules – eers in hul eie taal bemeester, kan dit makliker in ’n tweede of derde taal onder die knie kry. Daarbenewens is dit bewys dat mense wat moedertaalonderrig op skool ontvang, op die lange duur akademies beter presteer, minder geneig is om skool te verlaat voordat hulle matriek slaag en waarskynlik meer naskoolse kwalifikasies sal behaal,” verduidelik hy.
Modungwa het deur haar prestasie bewys dat Tswana ’n regmatige plek het as ’n taal met hoër taalfunksies en ’n taal wat tot voordeel van sy sprekers verder ontwikkel moet word.
“Om ’n taal lewend te hou, moet dit vreesloos gebruik kan word – en Modungwa het deur haar vreeslose en onbeskaamde gebruik van Tswana vir haar PhD-studies ’n historiese mylpaal vir dié taal aan UP bereik. Ons hoop is dat haar werk as die aansporing sal dien van nog trotse Tswana-akademici om te help om dié taal verder uit te bou tot ’n dinamiese en florerende wetenskapstaal wat sy skoene kan volstaan in die geselskap van ander tale met gevestigde en uitgebreide hoër funksies,” sluit Uys af.