AfriForum verwerp regering se plan om private maatskappye te dwing om nuwe diskriminerende rassefonds van R100 miljard te finansier
AfriForum het dit duidelik gemaak dat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging se voorgestelde plan om 3% van ondernemings se jaarlikse netto wins ná belasting te onteien vir ’n nuwe R100 miljard-rasdiskriminerende “transformasiefonds”, immoreel en vernietigend is.
Parks Tau, die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, het die bogenoemde fonds voorgestel tydens sy departement se onlangse jaarlikse prestasieplan-aanbieding aan die Portefeuljekomitee. Hierdie fonds, wat deur die Nasionale Bemagtigingsfonds geadministreer word, sal befondsing uitreik in ooreenstemming met BBBEE-rassekriteria.
Benewens AfriForum se morele besware teen enige fonds wat finansies op grond van ras uitdeel, hou dié fonds ’n ernstige risiko vir korrupsie in. Die aansienlike vlakke van korrupsie en plundering wat die regering se R500 miljard-Covid-19-ondersteuningsfondse geteister het, dien as die perfekte voorbeeld van hierdie risiko. Laastens het dekades van rasdiskriminerende beleid onder die ANC-regering erg misluk om sy gestelde doelwitte te bereik om die armes op te hef en die werkloosheidskrisis te beveg. Werkloosheid het in werklikheid drasties gestyg sedert die instelling van hierdie nuwe raswette.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is die laaste ding wat die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie nodig het, ’n verdere belasting en meer rassediskriminasie om ’n reeds vyandige besigheidsomgewing, wat deur belasting versmoor word, te vererger. “Die ANC se mislukte rasbehepte eksperiment het lank genoeg aangehou. Dit is tyd om meritokrasie en ’n besigheidsvriendelike benadering ’n kans te gee,” voeg Van Zyl by.
“Suid-Afrika se regering het reeds meer as 141 raswette, wat dit die land maak wat die hoogste vlakke van rasmalheid ter wêreld toon. Hierdie skokkende statistiek is iets om oor skaam te wees, nie iets om te vier of selfs op uit te brei nie,” sluit Van Zyl af.
AfriForum het ’n petisie begin waar die publiek ’n einde aan die regering se rasdiskriminerende wette kan eis. Klik hier om die petisie te onderteken.