AfriForum verwelkom VSA-verslag wat vervolging van minderheidsgroepe, bedreigings vir eiendomsregte bevestig
Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum is die gedetailleerde verslag wat deur die Amerikaanse staatsdepartement se buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid gepubliseer is, ’n welkome blik op realiteit, aangesien dit die Suid-Afrikaanse regering se vervolging van Afrikaners en ander minderhede bevestig. Die verslag, wat laat gister gepubliseer is, het bevind dat die menseregte-situasie in Suid-Afrika gedurende die jaar aansienlik versleg het. Dit vestig aandag op die Onteieningswet en ander onregte wat teen minderheidsgroepe gepleeg word, soos uitgestippel in die regering se lang lys van raswette. Die verslag beklemtoon ook dat die regering “nie geloofwaardige stappe gedoen het om amptenare wat menseregteskendings gepleeg het, te ondersoek, te vervolg en te straf nie, insluitend opruiende rasse-retoriek teen Afrikaners en ander minderhede en geweld teen minderheidsgroepe.”
Gegewe die bevindinge in hierdie verdoemende verslag, is dit duidelik wat president Cyril Ramaphosa moet doen: veroordeel die “Kill the Boer”-dreunsang, wysig die Onteieningswet, skrap rassediskriminerende wette en verklaar plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad.
Die verslag waarsku teen beduidende menseregte-kwessies soos die onderdrukking van rasseminderhede, asook die intimidasie en teistering van burgerlike organisasies vir hul kritiek teenoor die regering. Laasgenoemde verwys na alle waarskynlikheid na die ondersoek na hoogverraad wat teen AfriForum van stapel gestuur is weens die organisasie se kritiek op die regering se ekstremistiese beleid en retoriek.
Die verslag se fokus op die bedreiging van private eiendomsreg deur die Onteieningswet, tesame met sterk kritiek op “tallose regeringsbeleide wat ontwerp is om gelyke geleenthede in indiensneming, onderwys en besigheid af te takel en uiterste retoriek en regeringsbesluite wat geweld teen grondeienaars aanvuur”, is geregverdig, feitelik en welkom.
AfriForum is ook bemoedig om te sien dat die verslag plaasmoorde en die “Kill the Boer”-dreunsang uitlig. Die verslag meld verder dat die EFF in onlangse jare aanvalle op Afrikanerboere aangemoedig het, die gebruik van die dreunsang “Kill the Boer” by hul saamtrekke laat herleef het en andersins geweld aangehits het.
Die vrystelling van hierdie verslag kom te midde van ’n diplomatieke krisis tussen die Amerikaanse regering en die Suid-Afrikaanse regering. In reaksie op die bevindinge doen AfriForum ’n beroep op die president om die “Kill the Boer”-dreunsang te veroordeel en konkrete stappe te doen om menseregteskendings en beleide wat Afrikaners en ander minderhede teiken, te stop. Sonder beslissende optrede in hierdie verband kan die verhouding met die VSA nie gered word nie.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is die Suid-Afrikaanse regering se ontkenning in die lig van hierdie verdoemende verslag, skandelik. “Die afgelope paar maande se diplomatieke krisis moes die ANC-geleide regering geleer het dat die ontkenning van die bestaan van werklike probleme nie die verhouding met die VSA sal red nie.
Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
“Indien die president en die ANC-geleide regering nie die nodige aandag gee aan die kwessies wat geopper is nie, moet hulle volle verantwoordelikheid neem vir die VSA se hoë tariewe teen Suid-Afrika en die verslegtende diplomatieke verhouding. Die president se versuim om op te tree, laat die mense van Suid-Afrika in die steek deur die ANC se ekstremistiese ideologie en obsessie met ras bo die belange van die land en sy burgers te stel,” sluit Van Zyl af.