|

AfriForum verwelkom hofoorwinning: Matriekuitslae mag gepubliseer word

AfriForum verwelkom dat die dringende aansoek van die Inligtingsreguleerder (IR) om ’n interdik teen die openbare bekendmaking van die 2024-matriekuitslae te verkry, onsuksesvol was. Die IR is ook beveel om AfriForum se regskoste vir dié saak te betaal. Die saak is gister in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor en regter Ronèl Tolmay het vandag uitspraak gelewer ten gunste van die publikasie van die uitslae.  AfriForum en verskeie ander groepe is as belanghebbende partye tot die IR se saak teen die Departement van Basiese Onderwys gevoeg.

Die IR het aangevoer dat  die bekendmaking van die matriekuitslae in openbare media ’n skending van matrikulante se reg tot privaatheid is. Daarenteen het die regter beslis dat dit in openbare belang is en dat die openbare bekendmaking daarvan moet voortgaan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het AfriForum en ander partye ook in 2022 geslaag met ’n saak oor dieselfde kwessie. ’n Bevel is toe uitgereik dat die uitslae wel gepubliseer moet word. Die saak waar oor die meriete van die weerhouding of publikasie beslis sal word, sal later in die jaar volg, maar nou was die dringende aansoek nodig sodat daar duidelikheid kon wees of die uitslae volgende week in koerante en op ander openbare platforms gepubliseer mag word, al dan nie.

“Die uitspraak is ’n oorwinning vir die matrikulante vir wie die bekendmaking van hulle uitslae op hierdie wyse van groot belang is. Dit is ook deel van die groter gesprek wat nodig is om die onderskeid tussen die reg tot privaatheid en openbare belang duideliker te omlyn,” het Bailey na afloop van die saak gesê.

Soortgelyke plasings