AfriForum veroordeel kwetsende en opruiende uitsprake
AfriForum doen ’n dringende beroep op burgers, en veral dié in leiersposisies, om nie kwetsende of opruiende uitsprake te maak of video’s daarvan te versprei wat spanning tussen burgers en verskillende kultuurgemeenskappe kan veroorsaak nie. Volgens AfriForum is dit noodsaaklik om deurgaans met wedersydse erkenning en respek teenoor alle kultuurgemeenskappe en landsburgers op te tree. AfriForum se beroep volg nadat ’n video, waarin ernstige kwetsende en dreigende taal gebruik is, die afgelope week wyd op sosiale media versprei is, en verskeie regeringsamptenare en politieke leiers ook beledigende en opruiende uitsprake gemaak het wat spanning tussen kultuurgemeenskappe verhoog.
“AfriForum veroordeel die kwetsende en dreigende taal wat teenoor ander kultuurgemeenskappe in die video gebruik word, ten sterkste. Om AfriForum, ’n burgerregte-instelling wat in belang van burgers optree, as ‘onpatrioties en baie rassisties’ te brandmerk soos wat die eerste adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Nomvula Mokonyane, gemaak het, is ook onaanvaarbaar,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
AfriForum beskou ook Mahlengi Bhengu-Motsiri, die ANC se nasionale woordvoerder, se opruiende opmerking dat AfriForum “nie uitgelos moet word nie” in ’n baie ernstige lig. “Haar bewering dat die ANC se fokus nou op die vereniging van Suid-Afrikaners moet wees, strook nie met die party se verdelende optrede en uitsprake teenoor AfriForum nie. Anders as wat sy beweer, is dit die ANC se binne- en buitelandse beleid wat die skade aan Suid-Afrika se beeld veroorsaak het,” verduidelik Uys.
Die burgerregteorganisasie benadruk voorts ook dat Vincent Magwenya, woordvoerder van die Presidensie, se uitspraak dat AfriForum “rasseverdeeldheid en vrees saai”, eenvoudig onwaar is. “AfriForum werk aktief saam met verskeie tradisionele gemeenskappe en in dorpe oor kultuurgrense heen om die lewensomstandighede van burgers op voetsoolvlak te verbeter. Dit is juis uitsprake van regeringslui soos Magwenya en politici soos Bhengu-Motsiri wat in werklikheid rasseverdeeldheid veroorsaak en vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika in gedrang bring. Hierdeur beskuldig die ANC AfriForum inderwaarheid van dít waaraan hulle self skuldig is,” sluit Uys af.
Dekfoto: Vincent Magwenya, woordvoerder van die Presidensie (GovernmentZA, Flickr)