AfriForum veroordeel Konstitusionele Hof se wettiging van “Kill the Boer”
Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Konstitusionele Hof se besluit om oproepe vir die moord op Afrikaners en boere – soos in “Kill the Boer” die geval is – te wettig, ten sterkste veroordeel. Die wettiging volg nadat die Konstitusionele Hof vroeër vandag AfriForum se aansoek om verlof tot appèl teen twee vorige hofbeslissings wat die sing van dié dreunsang gewettig het, van die hand gewys het. Luidens die bevel is die besluit geneem aangesien ’n appèl “geen redelike vooruitsigte op sukses het nie”.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, benadruk dat daar met die politieke oorgang van 1994 die indruk geskep is dat die Grondwet en die Konstitusionele Hof menseregte, insluitende dié van Afrikaners, in beskerming sou neem. “Ná hierdie skokkende hofuitspraak sien ons dat dit nie meer die geval is nie. Ons sien ’n toenemend radikale implementering van die Grondwet. Ons sien ’n toename in ideologies gedrewe regters. Ons gaan egter nie moedeloos raak nie. Ons neem baie duidelik hiervan kennis – ons neem ook kennis van die feit dat president Cyril Ramaphosa en die regering nie die uitsprake van ‘Kill the Boer’ wil veroordeel nie,” verduidelik Kriel.
AfriForum sal in reaksie hierop met selfvertroue voortgaan om die organisasie se 177 buurt- en plaaswagte uit te brei. “Ons doen dit sodat ons kan sorg dat daar ’n veilige toekoms vir ons, ons gemeenskappe en ons nageslag sal wees. As die owerhede ons nie wil beskerm nie, sal ons voortgaan om onsself te beskerm.”
Volgens Kriel het daar met dié uitspraak “iets ondenkbaar gebeur” en is dit nou wettig om te dreunsang of slagspreuke te gebruik wat vra dat ’n deel van die gemeenskap vermoor moet word. “Ons aanvaar wel nie die beslissing goedsmoeds nie en ons sal ons nie daarby berus nie, want ons het selfrespek. Ons sal ook nie aanvaar dat ons kinders in ’n samelewing moet aanhoor dat hulle maar vermoor kan word en dat die samelewing dit goedkeur nie. Ons sál dit aanhou beveg – ook internasionaal.”